Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Azzurri se Braam lek lippe af vir Bokke

Toe Braam Steyn Italië sewe jaar gelede sy tuiste gemaak het, sou hy nie in sy wildste drome kon dink dat hy dié land in die 2019 Wêreldbeker-rugbytoernooi sou verteenwoordig nie.

Dié 27-jarige slot, ’n boorling van Cradock in die Oos-Kaap, is die afgelope week in Italië se groep ingesluit vir die skouspel wat in September in Japan begin.

Braam Steyn in aksie vir Italië in 2019 se Sesnasiesreeks. Foto: Getty Images

“Toe ek destyds Italië toe is, is dit nie iets waaraan ek gedink het nie. Dit is enige rugbyspeler se hoop om gekies te word vir die WB, tog was dit ongelooflik toe ek hoor my naam is op die lys.

“Dit is eintlik ’n gevoel wat ek nie kan beskryf nie,” sê Steyn, wat in 2016 sy toetsbuiging vir Italië gemaak het.

Hy is ’n oudleerling aan Paul Roos Gimnasium en het in 2012 vir die Junior Bokke uitgedraf, voordat hy later daardie jaar sy heil oorsee gaan soek het. Die Junior Bokke het daardie jaar die Wêreldtoernooi vir o.20-spanne gewen.

Suid-Afrika en Italië is op 4 Oktober in ’n groepwedstryd in die WB-toernooi slaags en Conor O’Shea, die Italianers se afrigter, het vroeër dié week gesê dit is ’n wedstryd wat sy span teiken om te wen.

Braam Steyn probeer in 2012 verby ’n speler van Argentinië se o.20-span kom, toe hy vir die Junior Bokke gespeel het. Foto: Gallo Images

“Kyk, spanne soos die All Blacks en Engeland ontleed hul teenstanders in die fynste besonderhede. Ons fokus is egter op ons eie spel. Ons kan wen deur ons eie te foute beperk.

“Dan kan dit dalk weer wees soos in Florence (toe die Azzurri die Bokke in 2016 met 20-18 geskok het) dat ons met die wip van ’n bal die wedstryd wen,” sê Steyn, wat al tevore teen die Springbokke gespeel het.

“Dit gaan tog lekker wees om teen ouens soos Cheslin (Kolbe) en Eben (Etzebeth) te speel. Dit is ouens wat ek al van my skooldae af ken.”

Steyn, wat Italiaans vlot praat, sê daar is nie sprake daarvan dat die wedstryd teen die Bokke hom emosioneel onkant sal betrap nie.

“Ná vier jaar (in Italië se nasionale span), voel ek die ouens het my aangeneem. Om eerlik te wees, is dit altyd lekker om in Suid-Afrika te gaan vakansie hou, maar ek is ook al so lank in Italië, dat ek begin Italiaans word het.

“Altyd as ek terugkeer van Suid-Afrika, het ek daardie gevoel dat ek nou huis toe gaan – ek voel heeltemal Italiaans en bly lekker hier.

“Soos jy kan hoor, praat ek slegte Afrikaans, want ek moet die heeltyd in my kop vertaal,” sê Steyn.

Meer oor:  Azzurri  |  Bokke  |  Italië  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.