Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
B vir Bielies! Bokke blink op Ellispark

As ’n man sy kans in toetsrugby aangryp soos Herschel Jantjies het, kan Rassie Erasmus hom maar gerus ’n dubbel Bell’s én ’n Wêreldbekerkaartjie in die hand druk.

Die Springbokke se nuweling-skrumskakel het gister soos ’n veteraan in Suid-Afrika se Rugbykampioenskap-sege van 35-17 oor die Wallabies op Ellispark gespeel en ’n droombegin in toetsrugby gehad.

Hy het die Ellispark-skare die eerste keer op hul voete gehad toe hy agter die pale gaan afrond nadat S’bu Nkosi verskeie verdedigers van die besoekers met sy lopie voor die hoofpawiljoen ingesuig het.

S’bu Nkosi duik gister op Ellispark oor die doellyn vir sy drie.Foto: Christiaan Kotze/saspa

‘n Ruk later was sy aandeel in Lood de Jager se drie ewe groot. Jantjies het ’n lugskoppie van Pieter-Steph du Toit gejaag, gevang en is enkele sentimeters van die doellyn gestuit voordat De Jager eindelik gedruk het.

In nog ’n invloedryke oomblik het die Kapenaar enkele sekondes voor rustyd ’n seker drie deur die besoekers met sy flink spel gefnuik. Die Wallabies het ’n aanvallende skrum onder die Bokke se pale in die middel van die veld gehad. Die woelige Jantjies het die angel van daardie aanval getrek deur die agtsteman Isi Naisarani agter die skrum te betrap.

Net om sy spogvertoning, waarvan selfs Faf de Klerk kennis sou neem, in die tweede helfte af te rond, het Jantjies in die 64ste minuut steelkant gebreek om sy tweede vyfpunter te behaal.

Waarmee Jantjies ook beïndruk het, was sy goeie diens aan sy skakelmaat Elton Jantjies. Selfs sy hoë skoppe was in die kol.

Kortom het Herschel gister sy afrigter se besluit regverdig om hom te kies ten koste van Embrose Papier en Ivan van Zyl, wat verlede jaar nog die Bokke se tweede- en derdekeuse-skrumskakels was.

’n Mens moet egter jammer voel vir Cobus Reinach. Vanweë Herschel se goeie spel het Erasmus hom waarskynlik veel langer speelkans gegee as wat die beplanning vooraf was.

Reinach is eers in die 65ste minuut gevra om sy geel kombers van sy skouers te trek om die eerste keer ná vier jaar weer toetsrugby te speel. Hy het wel die beste van sy kort tyd op die veld gemaak deur self ’n mooi drie te behaal.

Gister se spogvertoning deur Herschel en die oorwinning van die Bokke se sogenaamde B-span sou egter nie moontlik gewees het as Suid-Afrika se agttal nie die fisieke botsings en vaste fasette so oorheers het nie.

Die manier waarop die ‘B-span’ gister gewen het, sal hulle beslis op hul tone hou.

Du Toit was een van die voorspelers wat die monster-duikslae ingeryg het. Hy lyk skerp so kort ná sy skouerbesering.

Die Bokkaptein Eben Etzebeth was duidelik omgekrap omdat hy nie deel van die A-span is wat vroeër na Nieu-Seeland gevlieg het nie. Die Aussies se seer lywe sal vanoggend van Etzebeth-hulle se fisieke spel getuig.

Die ander debutant in gister se Bok-beginspan, Rynhardt Elstadt, kan self tevrede met sy woelige spel voel. Hier en daar het hy ’n fout op die verdediging gemaak, maar hy is kliphard.

Selfs die veteraan Francois Louw het sy kant by die afbreekpunte gebring.

Een van die Bok-plaasvervangers wat die oog gevang het, was Frans Steyn. Hy het die bal sterk gedra en ook ’n paar harde duikslae ingekry. Daardie geelkaart wat André Esterhuizen gekry het toe hy Tom Banks om die nek gegryp en neergevel het, versterk Steyn se kanse om vorentoe meer speelkans te kry.

Die Bokke se B-span self sal egter erken dat hy baie geluk aan sy kant gehad het.

In die 18de minuut is die flank Lukhan Salakaia-Loto se drie nie toegeken nie toe die TV-skeidsregter Rowan Kitt van Engeland beslis het ’n aangee van die senter Samu Kerevi was vorentoe

Ook in die eerste helfte, in die 34ste minuut, kon die regtervleuel Dane Haylett-Petty – met geen teenstander voor hom nie en op die Bokke se doellyn – nie die bal skoon optel en neersit vir ’n vyfpunter nie.

Die Wallabies het ook nie ’n goeie rekord op Ellispark nie. Die vorige keer toe die Bokke en Wallabies op Ellispark slaags was, het Peter de Villiers se span ’n spogsege van 53-8 op 30 Augustus 2008 behaal. Die Aussies was laas op 24 Augustus 1963 met 11-9 oor Hennie Muller se span baas op Ellispark.

Die Wallabies met en sonder David Pocock en Israel Folau is twee verskillende spesies.

Die Bokke se volgende Rugbykampioenskaptoets is Saterdag in Wellington teen die All Blacks.

Erasmus se sogenaamde A-span behoort uit Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, ’n linkervleuel oor wie nog besluit moet word, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen, Du Toit, Kwagga Smith, Franco Mostert, RG Snyman, Frans Malherbe, Malcolm Marx en Steven Kitshoff te bestaan.

Die manier waarop die ‘B-span’ gister gewen het, sal hulle beslis op hul tone hou.

Meer oor:  Springbokke  |  Wallabies  |  Rassie Erasmus  |  Herschel Jantjies  |  Wêreldbeker  |  Toetsrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.