Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Baabaas-rugby nie Farrell-hard, maar bly taai!’

Mense moet geen fout maak nie – Barbarians-rugby is vol tierlantyntjies, maar dis steeds harde, fisieke rugby.

“Daar is groot duikslae, nou nie Owen Farrell-duikslae nie, maar steeds harde duikslae,” skerts Marnitz Boshoff, die voormalige Springbok-losskakel, wat in 2014 vir die Barbarians teen Australië gespeel het.

Marnitz Boshoff maak ’n breekslag vir die Barbarians teen die Wallabies op Twickenham in 2014. Foto: Getty Images

Hy het daardie dag selfs ’n uitsonderlike spandrie in tradisionele Baabaas-styl afgerond in dié aanskoulike stryd, wat die Wallabies met 40-36 op Twickenham gewen het.

Die Barbarians is die naweek weer in aksie wanneer hulle Argentinië op Twickenham aandurf. Rassie Erasmus, die Bok-breier, rig die span af. Nie minder nie as 13 Suid-Afrikaners is by die Barbarians se groep van 23 spelers ingesluit.

Die insluiting van spelers wat vanjaar ’n groot werklading gehad het, soos Siya Kolisi, Pieter-Steph du Toit, Malcolm Marx en Handré Pollard, het verskeie ondersteuners hul wenkbroue laat lig.

Boshoff verduidelik egter waarom enige speler dom sal wees om die voorreg om vir dié uitnodigingspan te speel, van die hand te wys.

Jy kan jouself eenvoudig gaan uitleef, soos in die ou dae van rugby.
Marnitz Boshoff

“As jy daar aankom, wys hulle vir jou ’n video oor die geskiedenis van die Barbarians. Hulle sê ook vir jou dit is die enigste span wat jou nooi om te kom speel, vir ander spanne moet jy gekies word.

“Dit is so lekker, omdat daar geen druk op jou is nie. Jy kan jouself eenvoudig gaan uitleef, soos in die ou dae van rugby.

“Jy kry ook die geleentheid om met ouens van ander lande te gesels en hulle te leer ken, ouens teen wie jy gewoonlik speel.

“Dit is ’n baie sosiale week en jy kry die kans om ’n bier te gaan drink saam met al daardie spelers. Dit bly ’n voorreg en al is dit ’n feeswedstryd, is jy trots om die Barbarians-trui oor die kop te trek,” vertel Boshoff.

Marnitz Boshoff in 2014 op pad na sy drie vir die Barbarians teen die Wallabies op Twickenham. Foto: Getty Images

Die Barbarians hou dinge ook eenvoudig.

“Ons het so drie maniere gehad hoe ons wou aanval. Dit was redelik rustig by die oefeninge. Ons het ook so ’n goeie groep gehad, dat die afrigter (John Kirwan) geweet het ons sal goed vaar.”

Volgens hom is dit vir teenstanders moeilik om in ’n wedstryd teen die Baabaas te speel.

“Jy speel gewoonlik teen internasionale spanne wat bepaalde planne in plek het. Hulle wil nie graag teen die Barbarians verloor nie, want dit is maar ’n saamgeflanste span.

“Ek dink die naweek se wedstryd gaan weer ’n goeie een wees.”

Die Barbarians se groep is:

Voorspelers: Schalk Brits, Lood de Jager, Pieter-Steph du Toit, Steven Kitshoff, Siya Kolisi, Malcolm Marx, Trevor Nyakane, Sikhumbuzo Notshe (almal SA), Wyatt Crockett, Jordan Taufua (albei NS), Luke Jones (Aus), Juan Miguel Leguizamón (Arg) en Alexandre Menini (Fr).

Agterspelers: Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Elton Jantjies, Jesse Kriel, Handré Pollard (almal SA), Jack Debreczeni, Tom English (albei Aus), Tommaso Benvenuti (It), Leon Fukofuka (NS) en Frank Lomani (Fidji).


Meer oor:  Argentinië  |  Jaareindtoer  |  Toetsrugby  |  Barbarians  |  Twickenham  |  Marnitz Boshoff  |  Baabaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.