Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Baabaas-stryd ‘Bok-proewe’ vir dié duo

Die een veg vir ’n plek in die Springbokke se Wêreldbeker-groep en die ander een sal wil wys hy is meer as ’n pensioentrekker.

Handré Pollard, die Springbok-losskakel, gee die bal uit in ’n oefensessie van die Barbarians. Die haker Schalk Brits (middel) is saam met Pollard in die Baabaas se beginspan, wat op Twickenham teen die Poemas te staan kom. Foto: Getty Images

Hoewel sorgelose feesrugby gewoonlik sinoniem is met die Barbarians, sal Trevor Nyakane en Schalk Brits, wat Saterdag op Twickenham saam vir dié beroemde uitnodigingspan teen Argentinië speel, nietemin ywerig wees om die Baabaas- en Bok-afrigter, Rassie Erasmus, te beïndruk.

Nyakane en Brits, wat in 2019 ook vir die Bulle in die voorry sal sak, het die afgelope maand saam met die Bokke getoer, maar hul deelname was beperk tot duiksakke ronddra.

Erasmus het ná die Curriebeker-eindstryd groot kritiek gekry nadat hy Brits bo Akker van der Merwe van die Haaie in sy toergroep gekies het.

Sy verduideliking dat hy op Brits besluit het as ’n mentor vir die ander hakers in die groep (Malcolm Marx en Bongi Mbonambi), het menige ondersteuner laat brom dat sy oordeel veel te wense oorlaat.

Die vraag is: presies wat bied Brits, wat lanklaas in aksie was en 38 sal wees wanneer die 2019 Wêreldbeker-toernooi in Japan aanbreek?

Die Bulle het Vrydag bevestig Brits sal in 2019 Pretoria sy tuiste maak gedurende die Superreeks. Of dit ’n slim kopie was, sal die tyd leer.

’n Blink vertoning teen die Poemas sal Loftus Versfeld se ringkoppe ’n bietjie hoop gee.

Nyakane is ’n paar seisoene gelede by Loftus as ’n vaskopstut versool, toe vaskoppe van gehalte ’n skaarsste in Suid-Afrikaanse rugby was.

Die mistiek van die Barbarians het jammerlik vervaag in die moderne era.

Die situasie is nou baie anders en Frans Malherbe, Vincent Koch en Wilco Louw was die nr. 3’s wat op die jaareindtoer ingespan is.

Thomas du Toit, wat op dié toer loskop gespeel het, het ook vanjaar ’n suksesvolle oorgang na vaskopstut gemaak en Coenie Oosthuizen is boonop ook nog in die Bok-prentjie. Dít alles beteken Nyakane gaan met iets uitsonderliks vorendag moet kom as hy die WB-groep wil haal.

Met die All Blacks en die Wallabies wat hul spelers aan die Barbarians onttrek het, is daar agt Bokke in die beginspan en nog vyf op die plaasvervangersbank.

Daar sal opnuut gevra word of daar in ’n tyd waarin daar soveel rugby gespeel word, plek is vir sulke betekenislose kragmetings.

Die mistiek van die Barbarians het jammerlik vervaag in die moderne era.

Dink terug aan die sterbelaaide spanne van selfs sowat 20 jaar gelede.

Die Springbokke het byvoorbeeld in Desember 2000 teen die Barbarians voor 70 000 mense in die Millennium-stadion in Cardiff, Wallis, gespeel.

Lawrence Dallaglio van Engeland het die Baabaas aangevoer en die uitsoekspan se agterlyn het daardie dag só daar uitgesien: Christian Cullen, Matthew Burke, Brian O’Driscoll, Daniel Herbert, Chris Latham, Carlos Spencer en Agustín Pichot.

* Barbarians: Jack Debreczeni, Tommaso Benvenuti, Tom English, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Handré Pollard, Leon Fukofuka, Juan Manuel Leguizamon, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Lood de Jager, Luke Jones, Trevor Nyakane, Schalk Brits, Wyatt Crockett (k). PLAASVERVANGERS: Steven Kitshoff, Malcolm Marx, Anton Peikrishvili, Sikhumbuzo Notshe, Jordan Taufua, Frank Lomani, Jesse Kriel, Elton Jantjies.

Argentinië: Juan Cruz Mallia, Sebastian Cancelliere, Matias Orlando, Bautista Ezcurra, Ramiro Moyano, Joaquin Diaz Bonilla, Martin Landajo, Rodrigo Bruni, Tomas Lezana, Pablo Matera (k), Matias Alemanno, Guido Petti, Santiago Medrano, Julian Montoya, Juan Pablo Zeiss. PLAASVERVANGERS: Agustin Creevy, Mayco Vivas, Lucio Sordoni, Tomas Lavanini, Santiago Grondova, Tomas Cubelli, Jeronimo de la Fuente, Santiago Carreras.

Skeidsregter: John Lacey (Ier).

Assistent-skeidsregters: Andrew Brace (Ier), Ben Whitehouse (Wallis).

TV-skeidsregter: Andrew McMenemy (Skot).

TV: 16:30 op SS 2.

Meer oor:  Handré Pollard  |  Schalk Brits  |  Rassie Eramus  |  Twickenham  |  Baabaas  |  Jaareindtoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.