Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nkosi en Kolisi ligpunte in sukkel-sege

Rassie Erasmus het tussendeur al die joligheid oor die verbeterde Springbokke se goeie spelpeil gemaan teen ’n oordrewe gevoel van selfvoldaanheid.

Gister in die toets teen Argentinië op Loftus Versfeld het Erasmus se vermaning groter gewig gedra as die Bok-afrigter self, want dit het gelyk asof die Bokke aan babbelas ly ná al die joligheid oor hul Rugbykampioenskap-triomf én verlede Saterdag se groot wen in Argentinië.

Sbu Nkosi
’n Spoor van verwoesting is agter Sbu Nkosi gelaat onderweg na dié drie, sy tweede in die Bokke se sege oor Argentinië. Sebastian Cancelliere, die Poema-vleuel, lê plat op die grond. Cobus Reinach is by vir ondersteuning. Foto: ANTON GEYSER, Gallo

Op die ou end het die Bokke gister naelskraap met 24-18 gewen – dit nadat ’n Poema-drie in die laaste minute nie toegeken is nie toe die skeidsregter beslis het daar was obstruksie in die aanloop tot die drie.

Dit was ’n gelukkie, want die obstruksie het nie kwaadwillig gelyk nie, maar eerder toevallig. Dit was egter die Bokke se redding om hul toetsvoorbereiding vir die Wêreldbeker onoorwonne af te sluit.

Onoorwonne, maar beslis ná gister nie met die kop in die wolke nie!

Erasmus se denkwyse om baie van sy topspelers te rus en ’n hele paar grensgevalle eerder speelkans te gee, het so byna geboemerang.

Dit was ’n vertoning deurspek met foute, en was dit nie vir kritieke oomblikke waar die Poemas baie basiese foute gemaak het nie, sou daar vandag ’n verloor agter die Bokke se naam gestaan het – ’n eerste verloor wat die span dalk nie met soveel selfvertroue na die Wêreldbeker sou vat nie.

Hulle het omtrent gesukkel om aan die gang te kom hoewel hulle met hope balbesit die eerste helfte oorheers het. Gebiedsvoordeel was ook in die guns van die Suid-Afrikaners. Terwyl hulle geboer het in die Argentyne se halfgebied, het foute hulle pal gekelder.

Dié foute het getuig van nuwe kombinasies en ’n gebrek aan samespel.

Van skeppendheid in die nuwe Bok-agterlyn, wat oor gevaarlike buiteagterspelers beskik, is ook maar min gesien.

Buiten Sbu Nkosi se twee drieë, waarvan die eerste ná ’n briljante agterlynbeweging was, het daar nie juis veel in die agterlyn gebeur nie. Daar was heeltemal te veel pogings om met stampkarrugby die Argentyne se verdediging te deurboor.

En hoewel daar voorvoetbesit deur veral André Esterhuizen op binnesenter gekry is, het daar nie veel vanaf gekom nie.

Nkosi se eerste drie het dinge uiteindelik aan die gang gekry vir die Bokke nadat die telling ná 27 minute se spel op 3-3 gestaan het. Die skare was ook taamlik oorbluf en stil, en het in groot afwagting op ’n vonk van iewers gewag.

Dit het uiteindelik gekom toe Nkosi vanaf eerstefasebesit afgerond het ná ’n goeie agterlynlopie deur die Bokke. Hy moes nog hope werk doen om te gaan druk, en het deur twee verdedigers gebars om oor die doellyn te gaan. Warrick Gelant, heelagter van die Bokke, het goed by die agterlyn in dié beweging aangesluit en ’n man oor bewerkstellig. Dié spasie het Nkosi goed gebruik deur rieme neer te lê doellyn toe.

Nkosi se tweede drie was die een wat vir die grootste opwinding gesorg het, en ook onderstreep waarom hy tans een van Suid-Afrika se grootse angels op die aanval is. Hy het ’n puik aangee van Jesse Kriel, buitesenter van die Springbokke, bemeester en in die proses ’n stuk of vier verdedigers geklop om te gaan druk. Dié drie, waar hy eers vanaf sy regtervoet afgetrap het, toe deur ’n tweede verdediger met krag gebars het, toe hakskene vir nog gewys het, en daarna sierlik oor die doellyn geduik het, was uiteindelik die vyfpunter wat die stryd vir sy span beklink het.

Maar vraagtekens sal oor verskeie spelers se kop hang nadat hulle nie oortuigend in dié vertoning was nie.

Hoewel Gelant tevrede kan voel met sy vertoning, was daar ’n paar opsies wat hy nie goed uitgevoer het nie. Een van sy verligtingskoppe is afgestorm en het byna tot ’n Poemas-drie gelei.

Ook die flank Rynhardt Elstadt was kliphard met sy verdediging en daai fisiekheid wat hy bring, is waardevol, maar of dit in dié vertoning genoeg was, sal net die tyd leer.

As skrumskakel het Cobus Reinach ook ’n bra louwarm vertoning gelewer. Hy het met sy onderskep-aangee ’n drie afgestaan toe Guido Petti, slot van Argentinië, die aangee onderskep en gaan druk het.

Thomas du Toit het op loskop by die eerste skrum ’n strafskop afgestaan, maar daarna nie ’n voet verkeerd gesit nie.

Die verblydendste egter vir die Bok-afrigter sal die skof van sy Wêreldbeker-kaptein, Siya Kolisi, wees. Kolisi het ’n skof van 52 speelminute ingesit en het sommer vroeg in die wedstryd al ’n paar breekslae gemaak.

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Wêreldbekerrugby  |  Bokke  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.