Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sommer baie sout in WP se diep wonde
Ali Vermaak word deur die Westelike Provinsie se mediese span van die veld gehelp nadat hy Woensdag in die Curriebeker-wedstryd teen Griekwas in die Kaapstad-stadion sy haksening geskeur het. Foto: Gallo Images

Die Westelike Provinsie het die onaangename vooruitsig om die gedugte Britse en Ierse Leeus volgende week met ’n spul onervare voorryspelers aan te durf.

Dít nadat die veteraan-loskopstut Ali Vermaak sy haksening geskeur het in Woensdag se nederlaag van 28-30 teen Griekwas in die Kaapstad-stadion.

John Dobson, die Streeptruie se afrigter, voorspel dat die 32-jarige Vermaak “baie lank” buite aksie kan wees.

Vermaak is baie ongelukkig dat die noodlot hom só moet tref. Onder gewone omstandighede sou hy reeds in daardie stadium in die wedstryd vervang gewees het, maar Dobson het hom ter wille van sy ervaring op die veld gehou.

Die WP kan nie bekostig om ’n goeie skrumskakel soos Paul de Wet nie in die beginspan te hê nie. Foto: Gallo Images

Die WP was selfs met hom onder druk in die skrums en dit voorspel niks goeds vir volgende week Saterdag se wedstryd teen die Leeus nie. Volgens die toerskedule is dit die Leeus se laaste wedstryd voor die toetsreeks teen die Springbokke en hulle sal dit waarskynlik wil gebruik om hul spiere behoorlik te bult. Daar is wel ’n buitekans dat die Bulle se uitgestelde wedstryd teen die Leeus nog op die Dinsdag voor die eerste toets in Kaapstad kan plaasvind.

“Om teen Griekwas drie strafskoppe in die skrums af te staan en dan vir Tadgh Furlong (Leeus-vaskopstut) te hê wat op ons wag . . .” het Dobson die prentjie geskets om te benadruk hoe belangrik dit is dat die WP in daardie faset verbeter.

Neethling Fouché, ’n yster van ’n vaskopstut, was wel Woensdag weens deernisverlof afwesig. Hy sal die WP met sy terugkeer ’n bietjie spierkrag gee.

Twee onervare jongelinge, Leon Lyons en Kwenzo Blose, sal die pligte aan die loskopkant moet deel. In JJ Kotze het die WP ook ’n 20-jarige haker.

Hou ook in gedagte dat die WP nie enige van sy vier Springbok-voorrye – Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi en Scarra Ntubeni – beskikbaar gaan hê nie.

“Ons gaan jong spelers geleenthede moet gee en herbou in die skrums,” sê Dobson, wat nie die ontwikkeling van jong spelers wil strem deur nou ervare stutte van buite af in te bring nie.

Wat die WP se vertoning teen Griekwas betref, is daar versagtende omstandighede. Vanweë ’n bestuurslid se blootstelling aan iemand met Covid-19, was die afrigtingspan en spelers in die aanloop tot die wedstryd van mekaar verwyder.

Maar dit verskoon ook nie sekere tekortkominge nie – waarvan die swak dissipline, wat 17 strafskoppe en ’n geel kaart tot gevolg gehad het, veral uitstaan.

Die gemak waarmee Griekwas by die steelkant om ’n drie gedruk het, is ook nie ’n goeie getuigskrif vir die Streeptruie se verdediging nie.

“Wat my bekommer het, is die gebrek aan oorheersende duikslae. Ek dink dit het te make met ons duiktegniek. Ons sal dit onder die loep moet neem,” sê Dobson.

Die span wat teen die Britse en Ierse Leeus speel, sal darem aansienlik sterker wees. Benewens Fouché se teenwoordigheid, sal JD Schickerling (slot) en Nama Xaba (oopkantflank) skerper wees nadat hulle Woensdag van beserings teruggekeer het.

Om Godlen Masimla, gegewe sy huidige spelpeil, bo die opwindende Paul de Wet op skrumskakel te kies, is ook moeilikheid soek.

Die deurwinterde voormalige Springbok-senter Juan de Jongh behoort ook gekies te word.

Ironies genoeg lê die WP vir eers nog boaan die Curriebeker-puntelys, maar dis bloot danksy omstandighede en daar wag ’n groot drag slae op hulle as die sokkies nie voor die Leeus-wedstryd opgetrek word nie.

Meer oor:  Wp  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.