Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Bakermat vir swart spelers’ word al hoe witter
Al klaar tuis in Blou Bul-wêreld. Lizo Gqoboka, die Bulle se stut-aanwins uit die Baai, by gister se oefening in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Port Elizabeth. – Die span wat die sogenaamde bakermat van swart rugby in Suid-Afrika is, gaan volgende jaar ’n span in die veld stoot in die Super-reeks wat nie juis ’n advertensie vir rugbyontwikkeling sal wees nie.

Weens die geldgemors waarin die OP-Kings beland het, is daar nou ’n tekort aan voortreflike etnies swart spelers in die Kings se gekontrakteerde spelersgroep.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het wel belowe dat hulle met hul ingryping by die Kings van dié probleme sal beredder.

“Ek hoop dat ons die nuwe bestuursprosesse van die Kings en die ander besonderhede binne ’n week of twee sal kan verskaf,” het Jurie Roux, die uitvoerende hoof van Saru, in ’n verklaring gesê.

“Vir eers is ons fokus daarop om die geldsake uit te sorteer en die speler- en afrigting-behoeftes wat vir Super-rugby nodig is, te identifiseer.”

Die vertrek van die stut Lizo Gqoboka, vleuel Luther Obi, agtsteman Tim Agaba en veelsydige agterspeler Sylvian Mahuza het die alarmklokkies oor die moontlike samestelling van die Kings se Super-span laat lui.

Al dié spelers – met die uitsondering van Mahuza – sou sekerlik in die Kings se beginspan gewees het.

As ’n mens vinnig kyk na watter spelers oor is, is dit baie duidelik dat daar nie juis etnies swart spelers in die groep is wat die aanspraak dat die Oos-Kaap die bakermat van swart rugby is, weerspieël nie.

Die flank Thembelani Bholi en die haker Edgar Marutlulle kan dalk die beginspan haal.

Maar dis ook nie onmoontlik dat die Kings op die veld gaan draf met net twee swart vleuels – Shakes Soyizwapi en Siyanda Grey – in hul beginspan nie.

Die Kings het ook die etnies swart slot Tazz Fuzani op sy boeke. Hy het vanjaar gesukkel om die beginspan te haal.

As ’n mens kyk na die nege spelers wat nou deur die Kings ingebring is, is dit opvallend dat daar geen etnies swart spelers onder hulle tel nie.

  • Die SWD-Arende, wat saam met die OP-Kings en Grens veronderstel is om die Southern Kings te vorm, se uitvoerende hoof, Johan Prinsloo, het intussen sy hoop uitgespreek dat die krisis gou opgelos sal word.

“Ons hier in die Suidwestelike Distrikte ondersteun rugby en die OP is ’n belangrike rugbyprovinsie as jy dink aan dinge soos transformasie,” het Prinsloo gesê.

“Jy wil nie hê dié tipe ding – dat ’n unie tot teen die grond afgebreek word – moet gebeur nie.”

Volgens hom skarrel die Arende ook nie om spelers van die Kings wie se kontrakte nietig verklaar is, op te raap nie.

“Dis nie ons styl nie,” het Prinsloo gesê.

“Natuurlik, as ’n speler ons nou sou nader, sal ons daarna kyk.”

Die SWD-unie is wel tans besig om na nuwe afrigters te soek omdat Bevin Fortuin en Anton Leonard hulle by die Bulle aangesluit het.

“Ons het reeds ’n kortlys van kandidate en wil nie regtig te veel nuwe spelers kontrakteer voor die nuwe breier aangestel is nie,” het Prinsloo gesê.

  • Waar Mahuza hom bevind, is intussen ’n raaisel.

Nie een van die rugbyunies waar daar navraag oor hom gedoen is, het bevestig dat hy daar gaan speel nie.

Meer oor:  Op-Kings  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.