Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bakkies en Siya help om spelers te werf
Bakkies Botha en Jake White.

Bakkies Botha is terug in die Bulkraal.

Jake White het die legendariese oud-Springbok-slot gebel en gevra dat hy hom beskikbaar stel om in verskeie hoedanighede die Bulle by te staan in hul poging om hul aansien as ’n rugbykrag te herwin.

Botha was so drie of vier jaar gelede nog een van die Bulle se grootste kritici, maar hy het aan White gesê hy is gewillig om die Bulle te help waar hy ook al hand kan bysit.

In een van sy eerste bydraes het Botha die afgelope week ’n lang gesprek met ’n Springbok gehad oor sy planne om na Suid-Afrika terug te keer. Botha se gesprek was daarop gemik om die Bok oor te haal om hom by die Bulle aan te sluit.

Hoop bestaan op Loftus dat Botha se oproep die deurslag in die Bok se besluit sal gee.

“Ek sou nie sê ek is terug in die Bulkraal nie, maar eerder ’n opgewonde ondersteuner,” het Botha gesê.

“Ek is altyd beskikbaar vir advies waar nodig is om weer die Blou Bulle ’n krag te maak.”

White het aan Rapport bevestig hy het telefonies met Botha gepraat met die doel om hom by die Bulle te skaar.

Die Bok-kaptein Siya Kolisi.

White het van 2004 tot 2007 Botha by die Bokke afgerig en glo Botha se kennis kan die Bulle tot groot voordeel strek.

Botha is ook ’n goeie vriend van Johann Rupert, een van die Bulle se vernaamste aandeelhouers.

“Ek beplan ook om ander legendes soos Fourie du Preez te betrek, mense wat ’n bydrae kan lewer en die Bul-trui met trots gedra het,” het White gesê.

Net soos wat White met Botha gedoen het, het die Westelike Provinsie die Bok-kaptein, Siya Kolisi, gebruik om die Leeu-senter Wandisile Simelane te bearbei vir ’n skuif Kaap toe.

Simelane was tot voor die oproep van die Bok-kaptein op pad Durban toe om by die Haaie te teken.

Die Haaie wil hom as plaasvervanger vir André Esterhuizen kontrakteer, met Esterhuizen wat ’n kontrak met die Engelse klubspan Harlequins gesluit het.

Rapport verneem daar is ná Kolisi se gesprekke ’n groter as 70%-kans dat Simelane hom eerder saam met die Bulle se Warrick Gelant by die Stormers sal aansluit.

Die Leeus het egter nog nie moed opgegee om Simelane te behou nie.

Hulle sal môre met hom en sy agent, Craig Livingstone, oor sy toekomsplanne praat, maar Kolisi se gesprek kan deurslaggewend wees.

Meer oor:  Bakkies Botha  |  Jake White  |  Siya Kolisi  |  Fourie Du Preez  |  Rugby  |  Spelers  |  Werwing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.