Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Fourie moet Victor by Bulle help'

Sonder twyfel die regte aanstelling, maar hy sal uit die staanspoor onder druk wees om homself te bewys.

Só meen Bakkies Botha, voormalige Springbok-slot van die Bulle, oor die vooruitsig dat sy boesemvriend en oud-bloedbroer op die rugbyveld, Victor Matfield, as die Bulle se nuwe hoofafrigter aangestel sal word.

Bakkies Botha en Victor Matfield, die mees ervare slotpaar in die geskiedenis van Springbok-rugby, vier in 2014 ’n Bok-sege op Nuweland. Foto: Gallo Images

“Victor gaan beslis waarde toevoeg en dit was nog altyd sy droom om af te rig. Ons het nog saam gespeel toe het hy al vertel hoe graag hy as ’n afrigter sal wil terugploeg.”

Botha sê Matfield sal soos enige ander afrigter beoordeel word op die span se vertonings.

“Om ’n goeie speler te wees is een ding, maar om ook ’n goeie afrigter te wees ’n heel ander. Dink aan iemand soos Martin Johnson, wat ’n ongelooflike speler was, maar dit nie as ’n afrigter kon maak nie.

“Ek sê nie dit is wat met Victor gaan gebeur nie, maar net die tyd sal leer of hy dieselfde impak kan maak as ’n afrigter.”

Hulle oud-spanmaat by die Bulle en Springbokke Fourie de Preez se betrokkenheid sal deurslaggewend wees, voorspel Botha.

As Victor vir Fourie kan oortuig om hom by te staan, sal hulle ’n gedugte kombinasie wees.
Bakkies Botha

“Kyk, Victor was ’n fenomenale speler, maar ek het in my loopbaan nie ’n beter rugbybrein as Fourie teëgekom nie.

“As Victor vir Fourie kan oortuig om hom by te staan, sal hulle ’n gedugte kombinasie wees. Ek glo Victor besef dat hy Fourie se kundigheid nodig het.”

Victor Matfield het die Leeus-afrigter, Swys de Bruin (links), verlede jaar in die Curriebeker-reeks as ’n hulpafrigter bygestaan. Foto: Gallo Images

Botha sê hy hoop soos enige ander “gewone ondersteuner” dat die Bulle nou raakgevat het met Matfield se aanstelling.

“Ek hoop regtig daar is nou klaar gebou by die Bulle, want ons hoor nou al vir agt, nege jaar dat die span in ’n boufase is.

“Dit is seker ’n groot ding om kwyt te raak, maar ek is bly (Barend) Van Graan vat nou die pad en dat daar ’n nuwe besem is. Ons almal weet daar is vernuwing nodig by Loftus Versfeld.”

Die Leeus se hoofbreier, Swys de Bruin, sê Matfield sal ’n baie goeie aanstelling wees.

Matfield was verlede seisoen een van De Bruin se hulpafrigters in die Curriebeker-kompetisie.

“Hy is ’n lynstaanspesialis sonder weerga en sy goeie algemene kennis en passie vir die spel maak hom ’n groot bate.”

De Bruin en Matfield se paadjies het in 1999 in Kimberley as afrigter en speler by Griekwas vir ’n eerste keer gekruis.

“Ja, ons kom al ’n hele ent. Victor het eintlik destyds by Griekwas ’n Springbok geword nadat hy oorbodig was in Pretoria. Hy is later eers terug Bulle toe.

“Victor is van Pretoria en hy verstaan die kultuur by die Bulle. Hy ken ook die slaggate en die hoë verwagtinge wat saam met die pos kom,” se De Bruin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.