Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bakkies: Willemse het reg besluit

Die stadiger, fisieke rugby in Frankryk pas Paul Willemse soos ’n handskoen, maar die uitdaging vir hom is nou om die pas in toetsrugby vol te hou, sê die voormalige Springbok-yster Bakkies Botha.

Willemse, ’n 135 kg-bielie van 2,01 m, is vandeesweek in Frankryk se Sesnasies-groep ingesluit.

Paul Willemse op die aanval vir sy Franse klub, Montpellier, teen die London Harlequins. Foto: Getty Images

Dié 26-jarige boorling van Pretoria is in 2014 by die Bulle weg en het in November verlede jaar Franse burgerskap gekry.

Botha, wat aan die einde van sy loopbaan vir Toulon in Frankryk gespeel het, het ’n keer of wat teen Willemse gespeel toe hy nog by Grenoble gekontrakteer was.

“Hy was nog ’n jong outjie, maar was toe reeds groot en fisiek.

“Die stadiger rugby in Frankryk pas hom beslis beter en ek is bly dat hy nou die kans kry om internasionale rugby te speel.

“Die pas van Top14 op na toetsvlak toe, sal wel ’n uitdaging vir hom wees en dit sal interessant wees om te sien of hy die nodige aanpassing kan doen,” sê Botha.

Die vraag bly of Willemse die kans sou gekry het om toetsrugby te speel as hy in Suid-Afrika aangebly het.

Die Springbokke is geseënd met baie diepte in die posisie. Lood de Jager, Eben Etzebeth, Franco Mostert, RG Snyman en JD Schickerling was verlede seisoen die slotte op die Bokke se jaareindtoer, terwyl Pieter-Steph du Toit net so tuis in die tweede ry is.

“Dit bly jammer dat ons nie ’n speler soos Paul hier kan hou nie, maar ek dink hy het ’n goeie besluit geneem.

“Hy is nou al ’n hele paar jaar daar en is deel van die Franse kultuur.

“Paul kry die kans om vir Frankryk te speel en jy moet dit vir hom gun,” sê Botha.

Xander Janse van Rensburg, die Blou Bulle Maatskappy (BBM) se hoëprestasiebestuurder, sê Willemse het destyds ’n aanbod uit Frankryk gekry waarvoor hy nie kon nee sê nie.

Paul het ’n ongelooflike aanbod gekry en hy wou toetsrugby speel.

“Hy was nie in daardie stadium in die Bok-prentjie nie en selfs by die Bulle was daar slotte soos Victor Matfield, Juandré Kruger, Flip van der Merwe, Wilhelm Steenkamp en Jacques du Plessis.

“Paul het ’n ongelooflike aanbod gekry en hy wou toetsrugby speel.”

Janse van Rensburg sê die werklikheid is dat Suid-Afrikaanse rugby nie ’n kans staan teen die euro, pond en jen nie.

Die Bulle sal iewers vorentoe ’n stryd op hande hê om RG Snyman en Jason Jenkins in Pretoria te hou.

“Dit bly ’n opdraande stryd. Jy gaan nie almal hier kan hou nie.

“Ek is baie bly vir Paul. Hy is ’n wonderlike speler en mens en ek dink hy kon ’n Bok geword het. Mag hy ’n legende in Franse rugby wees.”

Meer oor:  Bakkies Botha  |  Paul Willemse  |  Toetsrugby  |  Sesnasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.