Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bantom kry meer mag in WP Rugbyunie

Ronald Bantom is nie net die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se nuwe visepresident nie, hy is oënskynlik ook nou ’n direkteur van die unie se sakevleuel.

Selfs al is hy nou net die visepresident, is Ronald Bantom deur die ondersteuning wat hy geniet waarskynlik die magtigste rugbybaas in die WP Rugbyunie se strukture. Foto: Son

Dít blyk uit ’n nuusverklaring wat deur die WPRU uitgereik is. Daarin word bevestig dat Bantom Maandagaand op ’n spesiale algemene vergadering in Nuweland amptelik as die visepresident bevestig is.

Dít opsigself is nie ’n verrassing nie, want hy was die enigste benoemde. Dat sy invloed nou ook na die kant van beroepsrugby strek, is egter ’n nuwe ontwikkeling.

Bantom is glo ook skerp gekritiseer op ’n vergadering wat deur die klubs bygewoon is. Hy het op die ou einde egter die wa gemaklik deur die drif getrek toe gestem is om hom in sy posisie te bevestig.

Bantom geniet steeds groot steun, hoewel sekere klubs glo steeds krapperig is oor die feit dat die WPRU sy regskoste gedra het vir ’n saak in Kaapstad se hooggeregshof wat hy op die dag van 2018 se verkiesing om ampsdraers teen die unie verloor het.

Dit was nadat hy drie dae voor die verkiesing hangende ’n tugverhoor geskors is vir ’n beweerde oortreding van die WPRU se gedragskode. Hy kon gevolglik toe nie vir die posisie van visepresident staan nie.

Hoe dit ook al sy, Bantom se posisie in die unie is nou sterker as ooit vantevore en hy het in die WPRU se verklaring ook groot lof gekry.

“Bantom is ’n gesoute rugbyadministrateur wat ’n honneursgraad aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf het en gedurende sy loopbaan in leiersposisies as ’n skoolhoof, en in verskeie gemeenskapsportorganisasies en klubrugby-strukture gedien het,” lui die WPRU se verklaring.

Zelt Marais, president van die WPRU, het Bantom as ’n “gesoute en ywerige administrateur” beskryf.

“Mnr. Bantom bring vaardighede wat die WPRU benodig. Hy is ook onlangs aan die direksie van Western Province Professional Rugby (die sakevleuel wat die senior spanne bedryf) afgevaardig, waar hy verdere waardevolle bydraes sal lewer,” sê Marais.

Die unie het onlangs twee van sy verteenwoordigers op die sakevleuel, Peter Jooste en Moneeb Levy, herroep.

Jooste het in 2018 die presidentsverkiesing teen Marais verloor, maar is steeds ’n gewone lid van die WPRU se uitvoerende komitee, terwyl Levy die adjunkpresident is.

Bantom het gesê dat hy daarna uitsien om ’n “positiewe bydrae” te lewer om te verseker dat die WP sy “regmatige plek as een van die voorste rugbyunies ter wêreld behou, danksy die hulpbronne tot sy beskikking.

“Dit sluit in die skole, klubs, universiteite, stadion, ondersteuning, borge en die sterk handelsnaam van die WP.”

Volgens die WPRU se verklaring verstewig die verkiesing van Bantom sy leierstrukture op die regte tyd.

• ’n Woordvoerder vir die WPRU het aan Netwerk24 gesê dat die sakevleuel se direkteure Vrydag bekend gemaak gaan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.