Ronald Bantom is Maandagaand tot die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se uitvoerende komitee verkies.
Sy verkiesing volg op die bedanking van Kevin Kiewitz in Junie vanjaar in die nadraai van die WPRU se besluit om nie sy eiendomstransaksie met Investec vir die herontwikkeling van Nuweland deur te voer nie.

Ronald Bantom, wat tot die uitvoerende komitee van die Westelike Provinsie Rugbyunie verkies is. Foto: Gallo Images
Bantom was ’n kandidaat om die amp van visepresident toe hy Zelt Marais se veldtog om die presidentskap in 2018 help dryf het. Hy is egter drie dae voor die verkiesing in kennis gestel dat hy daarvan aangekla word dat hy die WPRU se gedragskode oortree het.
Bantom het toe met ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Kaapstad misluk om die aksie teen hom ter syde gestel te kry. Spencer King is gevolglik onbetwis as visepresident verkies.
Die saak teen Bantom het verband gehou met ’n vurige woordewisseling tussen hom en Jessie Claassen, die nasionale bestuurder van die SA Rugby Legends se Vuka-program, in Augustus 2017.
Die WPRU sê in ’n nuusverklaring dat Bantom ’n “deurwinterde administrateur” is, wat die “huidige leierskapstruktuur sal versterk”. Hy dien tans as die ondervoorsitter van die Bellville-rugbyklub.
Die WPRU se verklaring maak melding van Bantom se ervaring in “gemeenskap-, skole- en klubrugby”.
Hy is die hoof van die Hoërskool Kasselsvlei, waar hy die eerste span vir 12 jaar afgerig het. Bantom het ook van 1998 tot 2006 as sameroeper van die keurkomitee van die WP se skolestrukture gedien. Hy was ook al ’n keurder van die SA Skolespan, aldus die WPRU se verklaring.