Hou die Blitsbokke by hul wedstrydplan is daar geen rede hoekom hulle nie Amerika Sondag in die sewestoernooi in Hongkong kan klop nie.

Die Blitsbokke se Werner Kok op pad na sy 100ste drie. Foto: David van der Sandt
So sê Renfred Dazel, hulpafrigter van die Suid-Afrikaanse sewesspan, aan die vooraand van hul kragmeting in die kwarteind teen Amerika.
“Dit gaan belangrik wees dat ons vir 14 minute by ons wedstrydplan hou,” sê hy.
Suid-Afrika het sy groepwedstryde onoorwonne afgesluit, terwyl Amerika, die voorloper op die algehele punteleer in die reeks, tweede in Groep D klaargemaak het.
Die Amerikaners het teen Wallis (19-21) en Engeland (22-28) vasgeval, en hierdie is die ideale geleentheid vir die Blitsbokke om die Amerikaners net weer te herinner wie nou eintlik baas en wie Klaas is.
Slaag Suid-Afrika daarin om Amerika te klop, sal hy teen waarskynlik Fidji in die halfeindstryd te staan kom. Die Fidjiane pak Argentinië in hul kwarteindronde.
Vir Werner Kok was die Blitsbokke se laaste groepwedstryd teen Samoa ’n spesiale geleentheid. Dié 26-jarige Kok het sy 100ste drie vir Suid-Afrika in Wêreldrugby se sewesreeks gedruk en is vol vertroue dat Amerika geklop kan word.
“Dit gaan taai wees. Die manne moet nou net lekker gaan rus en na hulself kyk en dan kom ons Sondag terug vir die eerste wedstryd,” sê Kok.
Stedman Gans wat die veld vroeg teen Samoa verlaat het, is piekfyn en sal teen die Amerikaners diens kan doen.
*Bepalings van die kwarteindronde (SA tye): 04:48: Suid-Afrika t. Amerika, 05:20: Fidji t. Argentinië, 05:42: Engeland t. Samoa, 06:07: Frankryk t. Nieu-Seeland (alle wedstryde regstreek op SS 1).