Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Aanbieder loop deur oor vrae ná nederlaag

Die BBC se onderhoudvoerder Sonja McLaughlan het soveel negatiewe reaksie ontlok ná die wedstryd tussen Wallis en Engeland dat sy in trane was.

Sonja McLaughlan Foto: Getty Images

McLaughlan, wat ná afloop van Wallis se wegholsege van 40-24 ’n onderhoud gevoer het met Owen Farrell, die Engelse kaptein, het kwaai op sosiale media deurgeloop.

“Toksies, ’n verleentheid, skandelik, ontstellend. Net van die terugvoer wat ek gehad het,” het sy op Twitter geskryf.

“Stel jou voor jy word deur beledigings oorval net omdat jy jou werk doen. In trane in my kar. Hoop julle is tevrede.”

McLaughlan het ná die wedstryd onderhoude met Wayne Pivac, Eddie Jones, Alun Wyn Jones en Farrell gevoer.

In haar onderhoud met Farrell wou sy weet of hy dink Engeland is deur swak beslissings deur die skeidsregter van ’n oorwinning beroof.

Hy het geantwoord: “Dit is nie vir ons om te sê nie. Ons het teruggekom in die tweede helfte en kon dit net nie doen nie. Daar is baie dinge wat ons beter kon doen.”

McLaughlan het spesifiek verwys na ’n omstrede insident in die aanloop tot Josh Adams se drie, waartydens net 22 sekondes verloop het tussen die skeidsregter Pascal Gauzere se gesprek met Farrell waar die Engelse kaptein aangesê is om met sy spelers oor hul dissipline te praat, en die hervatting van spel, met Wallis wat toe oor is vir hul eerste drie van die wedstryd.

McLaughlan het hom gevra of hy nie in daardie oomblik wakkerder moes wees nie.

“Ek sal weer daarna moet kyk,” het Farrell geantwoord.

“Ek weet nie wat ek in daardie oomblik gedink het nie.”

Sy wou egter steeds weet wat hy vir die skeidsregter gesê het, maar hy het haar onderbreek voordat sy haar vraag kon voltooi.

“Kyk, daar is geen punt om nou daaroor te praat nie. Enigiemand anders kan daaroor praat, maar ons gaan nou fokus op waaroor ons beheer het,” het hy gesê.

Hy het haar weer met ’n soortgelyke antwoord in die rede geval toe sy hom uitgevra het oor ’n beweerde aanslaan in die aanloop tot Louis Rees-Zammit se drie en sy opinie wou hê oor of die bal aangeslaan is of nie.

“Ek sê weer, ons sal beheer wat ons kán beheer.”

Sy het hom verder gepols oor die magdom strafskoppe wat Engeland afgestaan het.

“Wat julle duidelik nie kon beheer nie, was Engeland se strafskoptelling. Hoe erg dink jy het julle julself in die voet geskiet, en (Callum) Sheedy het gevolglik met drie skoppe geslaag?” het sy gevra.

“Ja, dit was ’n probleem vir ons,” het hy geantwoord.

“Dit is iets waarna ons sal moet kyk, want ek het gedink ons het ’n goeie poging gemaak, ek het gedink die intensie was goed.

“Jy kan egter nie spanne met so baie laat wegkom soos wat ons het nie.”

Die sportwêreld het hom intussen duidelik geskaar by McLaughlan, wat nie geskroom het om ’n paar moeilike vrae te vra nie.

BBC Breakfast se aanbieder, Dan Walker, en ITV Wales se Andrea Byrne was onder diegene wat vir haar gesê het dat sy haar nie aan die kritiek moet steur nie.

Die Sesnasies-reeks se amptelike blad, sowel as Engeland en Wallis se amptelik Twitter-rekeninge het McLaughlan ook gesteun.– Sportredaksie

Meer oor:  Owen Farrell  |  Eddie Jones  |  Engeland  |  Sesnasies-Reeks  |  Wallis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.