Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Beale voorloper om Folau se plek te neem

Kurtley Beale kan ’n kleim afsteek om die Wallabies se heelagter te wees in die Wêreldbeker-rugbytoernooi, nadat dié posisie deur Israel Folau vakant gelaat is.

Met Folau se toetsloopbaan in die weegskaal hangende die uitkoms van ’n gedragskode-verhoor, is die veelsydige Beale se uitdaging nou om in die oorblywende deel van die Superrugbyreeks te wys wat in hom steek, berig stuff.co.nz.

Kurtley Beale in aksie vir die Wallies teen die Springbokke in 2017 in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Beale kry reeds Saterdag die geleentheid om te wys waartoe hy in staat is in die Waratahs se belangrike kragmeting met die voorloper van die Australiese konferensie, die Rebels.

Heelagter is ’n bekende posisie vir Beale, wat sy kleim in internasionale rugby in die laaste vesting afgesteek het. Dit het aan hom ’n benoeming as die Wêreldspeler van die Jaar vir 2010 besorg.

Hy het ook in 2011 se Wêreldbeker-toernooi daar gespeel, voor senter sy gereelde posisie geword het.

“Dis ’n goeie geleentheid vir Beale om te wys hy kan die posisie syne maak en ons weet hy kan dit doen in die volgende paar wedstryde,” het die Waratahs se breier, Daryl Gibson, gesê.

Terwyl Folau goed onder die hoë bal is en die vermoë het om drieë te druk, glo Gibson Beale beskik weer oor die kuns om goeie teenaanvalle as heelagter te loods.

“Hy het ’n sterk skopvoet en is takties baie goed,” het Gibson gesê.

“Ons wil sien wat hy kan bring in daardie posisie en gaan hom die vryheid gee om te speel soos hy wil.”

Folau loop die gevaar om in die pad gesteek te word deur Rugby Australië en NSW Rugby, nadat hy aangekla is van ’n hoëvlak-oortreding van die gedragskode weens omstrede sosialemedia-inskrywings.

“Ek steun beslis enige speler wat hulle reg uitoefen (vir ’n gedragskode-verhoor) en die gedragskode is wat dit is,” het Gibson gesê.

Indien Beale voortdurend uittroon op heelagter sal hy in alle waarskynlikheid sake uitspook met die Rebels se

Dane Haylett-Petty vir die Wallabies se no. 15-trui, met die Brumbies se spoedvraat Tom Banks ook ’n mededinger.

* Die paneel wat Folau se verhoor sal behartig, is intussen bekend gemaak. Hulle is John West QC (voorsitter), Rugby Australië se Kate Eastman SC en die verteenwoordiger van die Spelersvereniging, John Boultbee.

– Sportredaksie

Meer oor:  Toetsrugby  |  Israel Folau  |  Wallabies  |  Wêreldbekerrugby  |  Kurtley Beale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.