Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Geen meer ‘Beaaaast’ vir Bokke
TOKYO, JAPAN - NOVEMBER 02: Tendai Mtawarira of
Tendai ‘Beast’ Mtawarira lig Saterdag die Wêreldbeker. Foto: Getty Images
Tendai Mtawarira en prins Harry deel 'n grappie nadat die Springbokke Saterdag met Engeland afgereken het in die Wêreldbeker-eindstryd. Foto: Getty Images
YOKOHAMA, JAPAN - NOVEMBER 02: Tendai Mtawarira of
Só proe goud! Tendai Mtawarira ná sy swanesang vir die Bokke. Foto: Getty Images

Die legendariese Springbok-loskopstut Tendai Mtawarira het amptelik sy toetsrugbystewels gebêre.

Mtawarira (34), wat ’n uitblinker vir die Bokke in hul Wêreldbeker-triomf in Japan was, het dié nuus Woensdag in ’n verklaring deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) bekend gemaak. Hy het altesame 117 toetse vir die Bokke gespeel, waarvan die laaste Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland in Jokohama was.

Slegs Victor Matfield (127) en Bryan Habana (124) het in meer toetse as Mtawarira opgedraf.

Tendai Mtawarira
Beast stoomroller oor 'n Engelse teenstander in Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd. Foto: Getty Images

Mtawarira, wat in 2008 teen Wallis in Pretoria sy toetsbuiging gemaak het, het etlike wennersmedaljes agter sy naam. Hy was in spanne wat die Wêreldbeker-toernooi, ’n reeks teen die Britse en Ierse Leeus, die Rugbykampioenskap en die Drienasiesreeks gewen het.

Plaaslik het hy drie Curriebekers (2008, 2010 en 2013) gewen. Hy het nooit saam met die Haaie die Superreeks gewen nie, maar sy 159 wedstryde in daardie reeks is die meeste deur enige Suid-Afrikaanse speler.

Op die hoogste vlak was sy beste toets waarskynlik die eerste in die reeks van drie teen die Leeus in Durban in 2009, toe hy die gerekende Engelse stut Phil Vickery in die skrums verneder het.

“Dit was vir my ’n voorreg om hierdie wonderlike spel te speel en in 12 jaar van senior rugby baie loopbaandoelwitte te bereik,” sê Mtawarira.

“Ek was geseënd om deel te wees van spanne wat deur die jare soveel sukses behaal het en het herinneringe gemaak wat ek altyd sal koester. Om die WB-toernooi te wen is die perfekte einde en kersie op die koek.”

Mtawarira het bygevoeg dat hy dankbaar is vir die geleenthede wat hy by “baie top-afrigters by die Springbokke en Haaie” gegee is. Hy het ook sy spanmaats by die Bokke en Haaie bedank.

“Bowenal is ek dank aan my vrou, Kuviza, en ons twee pragtige kinders, Talumba en Wangu, verskuldig vir die baie opofferings wat hulle gemaak het om my toe te laat om my drome na te streef. Ek waardeer dit geweldig,” sê hy.

Tendai Mtawarira sit op loop en die skare brul 'Beaaaast!' Foto: Gallo Images

“Ek wil ook my ouers, ander familie en vriende vir hul steun deur die jare bedank. Ek kon dit nie sonder julle gedoen het nie.”

Mark Alexander, president van Saru, het hulde aan Mtawarira gebring.

“Beast het nooit gekla nie, altyd hard gewerk en eenvoudig net op sy nederige manier sy kop neergesit en aangehou,” sê Alexander.

“Toe hy die eerste keer ’n geleentheid by die Haaie gekry het, het hy met ’n fiets oefensessies toe gekry. Dit spreek nie net van sy nederigheid nie, maar ook sy begeerte om bo uit te kom. Hy het baie hard gewerk om só baie te bereik en ons is almal baie trots op hom.

“Beast het gewys dat die Bokke inderdaad vriendelike reuse kan wees en het nooit sy eie belange bo dié van die span geplaas nie. Ons salueer hom en sal hom in die Groen en Goud mis.”

Meer oor:  Tendai Mtawarira  |  Bokke  |  Springbokke  |  Beast  |  Wêreldbekerrugby  |  Uittrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.