Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Beast effens minder krities oor Div
Tendai Mtawarira (links) en sy spanmaat Bismarck du Plessis omhels hul afrigter, Jake White, nadat die Haaie in 2014 met die Crusaders in Christchurch afgereken het. Maar, sê Mtawarira in sy outobiografie, die spelers het eintlik nie van White gehou nie. Foto: Getty Images

Die Springbok-ster Tendai (Beast) Mtawarira se outobiografie is terug op die rakke en daar is ietwat getimmer aan die uitlatings wat hy in die oorspronklike weergawe oor die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers gemaak het.

’n Herrie is vroeër vanjaar ontketen oor skerp kritiek op De Villiers in dié boek, wat aanvanklik op 1 Julie bekend gestel sou word.

Die uitgewer, Pan Macmillan, het lede van die media wat die boek vooraf vir resensie-doeleindes ontvang het te midde van die storm wat ontketen is, toe gevra om dit aan hom terug te besorg. Daar is gesê dat die boek eers later bekend gestel sou word sodat Mtawarira “uitsluitlik kan fokus op sy voorbereiding vir moontlike insluiting in die Wêreldbeker-groep”.

Die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers loop effens minder deur in ’n hersiene weergawe van Tendai Mtawarira se outobiografie, Beast. Foto: Getty Images

Mtawarira het toe die WB-groep gehaal en is Saterdag saam met sy Springbok-spanmaats as wêreldkampioene in Japan gekroon.

Dit blyk nou dat Mtawarira van sy woorde teruggetrek het in ’n hersiene weergawe van sy outobiografie.

Hy bly krities oor De Villiers, maar het wel sy woorde “ . . . as spelers moes ons baie versigtig wees wat ons aan die media sê. Wat jy sê sou by Peter uitkom en jou plek in die span raak.” verwyder.

Hy het ook sy oorspronklike stelling dat De Villiers se metodes en benadering “nie juis gewerk het met die Springbokke nie” versag na “nie altyd nie”. In ’n verdere verandering word nou gesê dat “van die media” gedink het dat De Villiers ’n “bietjie van ’n hanswors” was. In die oorspronklike boek word daar net verwys na “die media”.

Mtawarira voer egter steeds aan dat De Villiers “gelukkig” was om ’n sterk groep spelers te erf nadat die Bokke in 2007 die WB-toernooi gewen het, en dat hy “nie veel gedoen het nie”.

Jake White, onder wie die Bokke die WB-toernooi gewen het voordat De Villiers in 2008 oorgeneem het, loop egter ook deur in die boek.

Jake White se streng benadering as afrigter het hom ongewild onder die Haaie se spelers gemaak, sê Tendai Mtawarira in sy outobiografie. Foto: Getty Images

Mtawarira sê spelers was ontevrede met White se benadering toe hy die Haaie in 2014 se Superreeks begin afrig het.

“Daar was baie ongelukkigheid, want Jake het ons soos skoolseuns behandel. Hy wou ons om seweuur die oggend by Kingspark hê en het daarop aangedring dat ons tot sesuur die aand daar is,” skryf Mtawarira.

“Jake was nougeset in sy idees en was nie bereid om na enigiemand te luister nie. Hy het alkohol heeltemal verbied.”

Die omslag van Tendai Mtawarira se outobiografie, Beast.

Volgens Mtawarira het White die spelers grensloos geïrriteer deur konstante verwysings na wat hy “by die Brumbies” gedoen het. White het die Australiese span met welslae afgerig voordat hy teruggekeer het Suid-Afrika toe om die Haaie kortstondig te brei.

“Die spelers was verstom. Dit was asof als wat Jake gesê het die frase sou insluit: ‘By die Brumbies het ons . . .’. Hy sou ons videogrepe van hul oefensessies wys, ontledings van hul wedstryde en wat ook al. Die spelers was keelvol.”

Mtawarira voeg by dat die spelers die situasie deur die bemiddeling van die Haaie se destydse uitvoerende hoof, John Smit, probeer hanteer het. Smit was die kaptein van White se span wat die Wêreldbeker verower het.

“John sou regstreeks met Jake praat, maar dinge het nie verander nie en Jake het aangehou om almal te behandel asof hulle nie weet wat hulle doen nie, en dit het die bestuurspan ingesluit.”

* Beast is met die samewerking van die bekende rugbyjoernalis Andy Capostagno geskryf.

Meer oor:  Bokke  |  Jake White  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Beast Mtawarira  |  Peter De Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.