Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Beast groet Bok-rugby in nuwe trui

Tendai ‘Beast’ Mtawarira beplan om ná vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan sy toetsstewels weg te bêre.

Tendai ‘Beast’ Mtawarira groet Springbok-rugby ná vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan. Foto: Getty Images

In ’n eksklusiewe onderhoud agter die skerms by die verfilming van ’n advertensieveldtog vir die Springbok-trui vir vanjaar se WB-toernooi, het Mtawarira gesels oor die laaste herinnering wat hy wil skep.

“Ek sien dit as my swanesang. Ek wil ’n nalatenskap skep en gaan absoluut alles in die stryd werp om seker te maak dat ek dit regkry,” sê Mtawarira.

“Die eerste ding is natuurlik dat ek goed genoeg moet speel om die span te haal.”

Tensy ’n besering hom van stryk bring of Rassie Erasmus, die Bok-afrigter, hom teen die verwagting in nie kies nie, sal Mtawarira in sy derde WB-toernooi speel.

Mtawarira (33) het al 107 toetse vir die Bokke op sy kerfstok, waarvan 11 in 2011 en 2015 se WB-toernooie was.

Hy was in sy noppies met die truie wat die Bokke by die WB-toernooi gaan dra. Daar is die tradisionele Groen-en-Goud in die trui, wat met sy kleurskakerings aan 1995 se trui herinner, en dan ook die alternatiewe wit trui. Die truie is deur Asics vervaardig.

Die Springbok-trui waarmee die Springbokke vanjaar in Japan in die Wêreldbeker-toernooi gaan speel. Die Bok-embleem is op die linkermou, want Wêreldrugby se amptelike WB-kenteken moet op die regterbors verskyn. Foto: Verskaf

“Dis ’n pragtige trui, wat ons terug neem na 1995 se span wat die Wêreldbeker gewen het. Hopelik kan ons hulle vanjaar nadoen,” sê Mtawarira.

Die trui spog met:

* “ ’n Ikoniese kraag”.

* Dunner en ligter materiaal.

* ’n Kleef-effek om dit makliker te maak om die bal te vang en mee te hardloop wanneer dit teen die bors gedruk word.

* Rekmateriaal om spelers te help om uit duikslae los te wikkel.

* ’n Ontwerp wat spelers se arms soveel moontlik beweeglikheid gee.

* ’n Naat aan die kante om met bindwerk in die skrums te help.

“Die kleef-effek gaan dit makliker maak om die bal te behou wanneer jy daarmee hardloop. Dit pas ook lekker en vergemaklik ook bindwerk by die skrums. Die trui het ook ’n asemhaal-effek en is lekker lig. Jy sweet baie op die veld en al daardie sweet sal net deur die trui sypel en dit só lig hou as wat dit was,” sê Mtawarira.

“Dis ’n baie goeie ontwerp en sal ons help om groot dinge te vermag by die WB-toernooi.”

* Die trui is van 26 April op die winkelrakke.

Meer oor:  Haaie  |  Tendai Mtawarira  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Beast Mtawarira  |  Superrugby  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.