Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Beast inspireer versoolde flank Mchunu

Vir ’n jong rugbyspeler wat die skuif van losvoorspeler na stut maak, is daar geen beter rolmodel as Beast Mtawarira nie.

As daardie speler dan nog boonop Mtawarira se agting geniet en ’n regstreekse lyn na die Springbok-legende het, sal hy natuurlik in die sewende hemel wees.

Ntuthuko Mchunu teen die Vrystaat-Cheetahs in aksie. Foto: Gallo Images

Dít is die situasie waarin die Haaie se Ntuthuko Mchunu (22) hom bevind. Mchunu, ’n oudleerling van Maritzburg College in Pietermaritzburg, het sy ganse skoolloopbaan deur losvoorspeler gespeel, maar draf nou op loskopstut vir die Haaie uit.

Hy het vroeër vanjaar sy stempel met ’n spogdrie ná ’n lang stormlopie teen die Goue Leeus afgedruk. Mtawarira, wat self vroeg in sy loopbaan van losvoorspeler na loskop geskuif het, het daarna sy bewondering vir Mchunu op Twitter uitgespreek: “Die ou is die real deal.”

“Toe ek die skuif van losvoorspeler na loskopstut gemaak het, was Beast beslis iemand na wie ek opgekyk het,” het Mchunu vandeesweek gesê.

“Om daardie woorde van hom te hoor, bewys vir my ek gee die regte treë in die regte rigting. Beast se reis wys vir my dit ís moontlik om daardie skuif te maak. Dit help baie dat hy binne my bereik is, ek kan hom raad en leiding vra en hy help my.”

Dit is juis die raad en leiding van spelers soos Mtawarira wat die skuif vir Mchunu moontlik gemaak het.

“Ek het baie oor die skuif gedink. Dit was nie impulsief nie,” sê hy.

“Jy kan maklik in jouself en jou vermoë op die rugbyveld begin twyfel, want dit is so ’n groot skuif. Die afrigters en die senior spelers het my ondersteun en dit het my toegelaat om te vorder.

“Ek sou 11:00 die aand vir van die senior spelers boodskappe stuur en spesifieke vrae oor die posisie vra, en hulle het my altyd gehelp.

“Dit was nie maklik nie. Ek het slapelose nagte gehad wanneer ek dinge verkeerd gedoen het, maar die omgewing het my toegelaat om só te vorder.”

Hy sê hy wil dié seisoen graag in die vaste fasette, veral in die skrums, aanhou groei en verbeter. Sy fokus is tans daarop om harder te werk met die linkerkant van sy lyf in ’n skrum en om sy uithouvermoë te verbeter sodat hy vir langer tye aanhoudend sterk kan skrum.

Hy sê hy bring tog “iets anders” deur die bal gereeld te dra en slim lyne vir ’n stut te hardloop. Hy kan vas en los speel, sê Mchunu, maar hy weet skrumwerk betaal sy salaris.

Mchunu verwag juis om Saterdag in hul Curriebeker-kragmeting met Griekwas in Durban fisiek getoets te word.

“Hulle het ’n uitstekende seisoen sover. Hulle het ’n paar groot spanne geklop en is tans in die topdrie. Hulle sal vir ons in die vaste fasette en in die rolmale kom. Ons sien uit na ’n groot wedstryd.”


Meer oor:  Haaie  |  Tendai Mtawarira  |  Ntuthuko Mchunu  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.