Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Beast se ma agter sprokie met sy Beauty
‘‘Komaan, Beast, erken dit nou maar, jy was in Disneyland, né.” Foto: Gallo Images

Die groot vraag is – Was Beast nou al in Disneyland?

Beast Mtawarira was stomgeslaan toe hy hierdie vraag gevra word op ’n mediakonferensie by die Springbokke se hotel in Tokiobaai net voordat vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Japan sou begin.

Daar was weliswaar ’n Disneyland-vermaaklikheidspark reg langs die Bokke se hotel. Beast was nogtans verstom om gevra te word of hy al die pretpark besoek het.

“Nee.”

“Is jy seker?’’

“Ja!”

“Is jy doodseker?”

“JA!”

Dis omtrent hoe die gesprek tussen Beast en die rugbyskrywer verloop het.

Die ander rugbyskrywers was net so verbaas soos Mtawarira oor dié vreemde vraag.

“Wat gaan aan, ou?” wou hulle agterna by hul kollega weet. “Wat se ge-Disneyland-Disneyland is dit dié?”

Dis eers toe dat die skrywer verleë verduidelik dat sy publikasie ’n tipe Beauty and the Beast-Disneylandstorie soek dat hulle sy vreemde vrae verstaan het.

Dié lawwe voorval kan in die rugbyskrywer Liam del Carme se nuwe boek, Winging It: On Tour With the Boks, raakgelees word.

In Mtawarira se biografie, Beast, wat ook ’n tydjie gelede verskyn het, vertel die Springbokstut self ’n Beauty and the Beast-verhaal.

Volgens Mtawarira het sy ma hom in 2008 gebel en gesê sy het ’n visioen gehad terwyl sy in die kerk gebid het. Sy het ’n meisie gesien wat met Beast trou.

“Uh-hu,’’ het Beast gedink en die onderwerp probeer verander.

Maar Beast se ma is iemand wat nie so maklik van rigting gestoot word nie. Sy het sowaar die meisie opgespoor in ’n kerk in Harare.

Sy gaan vertel toe die meisie, ene Kuziva, se ma van haar visioen. Die meisie se ma het natuurlik amper ’n histerie-aanval gekry, want haar dogter was net 17 jaar oud.

In Desember van 2008 het Beast se ma by hom gekuier in Durban en toe gee sy vir hom die meisie se telefoonnommer.

Beast het in daardie stadium ’n meisie gehad, maar hy bel toe maar vir Kuziva.

Hulle gesels toe so lekker, dat hy haar die volgende dag weer bel en die volgende dag en die volgende dag . . .

Ná drie maande van oor die telefoon gesels, was Beast smoorverlief.

Ná drie maande van oor die telefoon gesels, was Beast smoorverlief.

In April 2009 kom kuier Kuziva toe die eerste keer vir hom (met Beast se ma wat haar vergesel) en Beast se bene word lam en nie lank daarna nie vra hy haar om te trou.

Die volle storie is in Mtawarira se biografie. Dis ’n verhaal wat elke moederhart se snare sal roer.

In Del Carme se boek is daar ook ’n hele paar stories waaraan ’n mens jou kan verwonder.

Hy skryf oor die baie jare wat hy nou al oor die Springbokke oor die wêreld heen verslag doen.

Dis nie altyd ewe maklik om ’n rugbyskrywer te wees nie, vind jy uit as jy Del Carme se boek lees.

Die rugbyskrywer Vata Ngobeni en die Maori-grootkop Timi te Heuheu vryf in 2011 neus.Foto: Winging it: On tour with the Boks

Hy vertel onder meer van die Pretoriase rugbyskrywer Vata Ngobeni, wat gedurende die Wêreldbeker-toernooi in 2011 ’n paar ongemaklike oomblikke in Nieu-Seeland beleef het.

Ngobeni en Mickey Mentz het tydens daardie toernooi in ’n camper agter die Bokke aan getoer.

In Taupo, ’n lieflike plekkie langs ’n meer op die Noordelike eiland, het hulle dors geword. Toe val hulle by ’n kroeg in.

Op ’n kol het Mentz besluit hy wil ’n bietjie dans, toe gaan maak Ngobeni ’n draai in die toilet.

Hy het net ingestap toe gryp die polisie hom en beskuldig hom dat hy besig is om dwelms in die toilet te verkoop.

“Wat! Voertsek, man!’’ het Ngobeni geprotesteer.

Toe hy weer sien, raak die geregsdienaars ’n bietjie hardhandig en is hy in die polisiekantoor waar die manne dreig om hom toe te sluit.

Toe hy weer sien, raak die geregsdienaars ’n bietjie hardhandig en is hy in die polisiekantoor waar die manne dreig om hom toe te sluit.

Ngobeni het al gesien hoe bring hy sy laaste dae in eensame afsondering deur met niemand wat weet waar hy is nie, toe vra die een polisieman hom: “Wat doen jy hier?”

“Ek is ’n Suid-Afrikaanse joernalis. Ek doen verslag oor die Springbokke in die Wêreldbeker-toernooi,’’ antwoord Ngobeni hom toe.

En die polisieman se oë word groot en hy begin om verskoning vra, want hy besef toe hy het ’n groot fout begaan.

Hy laat Ngobeni toe gaan, maar dit was beslis nie die einde van die storie nie.

Die woord het vinnig versprei, skielik was dit ’n internasionale voorval met die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, die uitvoerende hoof van Wêreldrugby, die hoof van die Maori Federale Party, die hoof van die polisie en Peter de Villiers, die destydse Bok-breier, wat almal ’n eiertjie te lê het.

Die uiteinde van die saak was toe dat Ngobeni, wat soms vir Beast Mtawarira aangesien word, toe deur baie mense om verskoning gevra word en vir die res van die toernooi in ’n luukse Land Rover kon rondry.

Meer oor:  Beast Mtawarira  |  Japan  |  Nieu-Seeland  |  Rugby  |  Toer  |  Disneyland  |  Stut  |  Toetse  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.