Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Beast wou Bokke destyds in 2017 groet

Tendai Mtawarira was teen die einde van 2017 só ontnugter met Springbok-rugby, dat hy naby daaraan gekom het om uit te tree, maar sjoe, hy is bly hy het ná ’n gesprek met Rassie Erasmus besluit om verder te speel.

So het die “Beast” vandeesweek in die aanlyn bekendstelling van Chasing the Sun – ’n dokumentêre reeks oor die Springbokke se 2019 Wêreldbeker-triomf – vertel.

Beeeeeeeeeeast! Tendai Mtawrira pyl af op ’n Engelsman in die 2019 Wêreldbeker-eindstryd. Foto: Getty Images

Die Bokke het tussen 2016 en 2017, toe Allister Coetzee die hoofafrigter was, slegs 11 uit 25 toetse gewen.

“Dit was ’n donker tyd vir Bok-rugby en as ’n senior speler het ek dit baie persoonlik opgeneem. Die Bokke staan vir hoë standaarde en ons het nie daaraan voldoen nie.

“Ek het daardie twee jaar slapelose nagte gehad en dit was moeilik om rond te stap, want dit het net gevoel asof jy almal teleurstel,” sê Mtawarira.

“Ek het oorweeg om uit te tree en teen die einde van 2017 sterk daaroor gevoel. Ek onthou dat ek vir Allister in ’n vergadering gesê het dat dinge moet verander. Daar was baie probleme in die kamp en ek het net gevoel dat ek nie staan vir die dinge wat aangaan nie.

“Gelukkig het Rassie (Erasmus) in 2018 in die prentjie gekom en die oomblik wat ek met hom gesels het, het ek die besluit geneem om aan te hou speel en te streef om die Wêreldbeker te wen. Dit was die laaste ding wat ek in die spel wou bereik.”

Tendai Mtawarira het darem nie soos Faf de Klerk ná die Wêreldbeker-eindstryd vir prins Harry in sy onderbroek gegroet nie. Foto: Getty Images

Mtawarira beskryf vir Erasmus, wat die Bokke in 2018 en 2019 afgerig het voordat hy hom heeltyds op sy pligte as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby begin toespits het, as ’n “genie”.

Veral die strategie met ses voorspelers op die plaasvervangersbank is vir Mtawarira daarvan ’n getuigskrif – nie net vir die waarde op die veld nie maar ook vir die samehorigheid wat dit weg daarvan af geskep het.

“Dit het die speelveld vir almal gelyk gemaak en almal het hul rol begryp. Ouens was bereid om hul selfsugtige ambisies opsy te skuif en nie die wens te koester om elke wedstryd te begin nie,” sê hy.

“Rassie sou vir die ouens sê dat die ander ouens begin en julle dinge moet afhandel. Dit was nooit dat ouens nie speelkans sou kry nie.

“Dit het veral in die voorry gegeld, waar hy vir my en Frans Malherbe gesê het dat ons 45 minute het om ons tenk leeg te speel. Steven Kitshoff en Vincent Koch sal dan kom om die wa deur die drif te trek. Almal het op die plan ingekoop.”

Mtawarira sê hy kon nie ’n “beter draaiboek” vir sy laaste toets skryf as die WB-eindstryd nie.

Tendai Mtawarira hou die Webb Ellis-beker omhoog nadat die Bokke vir Engeland met 32-12 in die eindstryd verslaan het. Foto: Getty Images

“Ek het só baie daarvan gedroom om my loopbaan op ’n hoogtepunt af te sluit en die WB-toernooi te wen,” sê hy.

“Dit was werklik ongelooflik. Ons het begin op ’n plek waar daar geen hoop was nie. Baie mense het geloof in die Bokke verloor. Toe kom Rassie en het ons die reistog na ’n verlossing begin om weer ’n toprugbyland te probeer word. Hy het ’n visie gebring en almal saam met hom geneem.”

Chasing the Sun is die eindproduk van werk wat ’n produksiespan van SuperSport vir etlike maande agter die skerms gedoen het. Hulle is tot in die binnekringe van die span toegelaat en het volgens Mtawarira mettertyd “deel van die Bok-familie” geword.

Die eerste van vyf episodes word Sondag om 18:00 op M-Net uitgesaai. Die laaste episode is op 1 November, op die vooraand van die eenjaar-herdenking van 2019 se Wêreldbeker-eindstryd.

Meer oor:  Tendai Mtawarira  |  Bokke  |  Chasing The Sun  |  Wêreldbeker  |  Springbokke  |  Beast  |  Wêreldbekerrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.