Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Beaumont reageer op eis teen rugbybase

Sy eie rugbyloopbaan is op 29-jarige ouderdom kortgeknip nadat hy herhaaldelik harsingskudding opgedoen het, maar glo vas dat spelers se welstand Wêreldrugby se voorste prioriteit is.

Bill Beaumont sê hy voel baie jammer vir oudspelers wat die vroeë tekens van demensie toon. Foto: Getty Images

Só skryf Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby, in ’n ope brief wat hy aan die rugbygemeenskap gerig het nadat ’n groep voormalige spelers bekend gemaak het dat hulle ’n gesamentlike skadevergoedingseis teen die Engelse en Walliese Rugbyunies, asook teen Wêreldrugby aanhangig gaan maak. Hulle voer aan dat hulle weens al die stampe in hul speeldae begin om tekens van demensie te toon.

’n Voormalige Wêreldbeker-wenner van Engeland, Steve Thompson, tel onder die spelers en het onlangs onthul hoe hy niks kan onthou van 2003 se toernooi, waar die Rose in Australië as wêreldkampioen gekroon is nie.

“As Wêreldrugby se voorsitter, ’n voormalige speler, pa van drie rugbyspelers en ’n liefhebber van die spel, het die onlangse onthullings van spelers oor hul ervarings my baie hartseer gemaak,” skryf Beaumont in sy brief.

“As iemand wat op mediese advies in die vroeë 1980’s moes uittree, is ek besonder gesteld op die welstand van alle spelers. Hulle is die hartklop van ons spel en ons werk onverpoos om hulle te beskerm.

“Ek voel baie jammer vir die spelers wat sukkel, maar wil die rugbyfamilie die versekering gee dat spelerwelvaart nog altyd ons grootste prioriteit op alle vlakke van die spel was.

As iemand wat op mediese advies in die vroeë 1980’s moes uittree, is ek besonder gesteld op die welstand van alle spelers.
Bill Beaumont

“Ek het geluister na die onlangse verhale van spelers wat uitgetree het (en beweer dat hulle weens rugby breinskade opgedoen het) en dit kan nie vir hulle maklik wees om so openhartig oor hul persoonlike omstandighede te praat nie. Ons verwelkom hierdie gesprekke.

“As ’n voormalige speler is ek al lank aktief betrokke by kognitiewe gesondheidsnavorsing en is ek persoonlik daartoe verbind om ons wetenskaplike begrip te verbreed sodat ons die welstand van ons spelers kan verseker.

“Dit is egter ook so dat die kwessie van harsingskudding en langtermyn- kognitiewe gesondheid besonder kompleks is. Ons het deur die jare voortdurend opgetree soos nuwe wetenskaplike inligting beskikbaar geraak het.”

Beaumont verduidelik dan oor die daadwerklike stappe wat in die laaste jare gedoen is (soos ’n behoorlike protokol vir gevalle waar spelers vermoedelik harsingskudding opgedoen het).

Steve Thompson is een van ’n groep spelers wat skadevergoeding by rugbyowerhede wil eis. Foto: Getty Images

Maar, sê hy, dus ook van kritieke belang hoe spelers se werklading – hoe baie hulle oefen, speel en kondisionering doen – bestuur word, want dit het ’n groot invloed op beserings.

Volgens Beaumont is dit nie net vir elite-spelers nie, maar vir die breër gemeenskap uiters belangrik dat spelers en afrigters opgelei moet word oor harsingskudding en hoe om dit te identifiseer, maar ook hoe om dit te verhoed.

“Enige speler wat vermoedelik harsingskudding het, moet dadelik die veld verlaat. Maar dit moenie net van die speler afhang om hierdie besluit te neem nie. Alle belanghebbendes moet weet wat die simptome en nagevolge van harsingskudding is.”

Volgens Beaumont befonds Wêreldrugby verskeie navorsingsprojekte oor harsingskudding, wat hy glo spelers op alle vlakke in die toekoms sal baat.

“Dis ons plig en ons neem dit baie ernstig op . . .Vandag as ’n ouer en ’n oupa glo ek vas dat die beskermingsmiddele daar is,” sê Beaumont. – Sportredaksie

Meer oor:  Bill Beaumont  |  Harsingskudding  |  Steve Thompson  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.