Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Davids kan Woensdag Kings groet

Deon Davids kan al Woensdag sy bande met die Southern Kings verbreek as hy en sy werkgewer, The Geatest Rugby Company in the Whole Wide World (Edms.) Bpk., tot ’n vergelyk kan kom oor die Kings-afrigter se skeidingspakket.

Davids, na wie taamlik onlangs nog verwys is as ’n afrigter met die potensiaal om die Springbokke af te rig en ook ter sprake was met die aanstelling van die Bulle se nuwe afrigter en ook nou weer genoem is as ’n kandidaat om Franco Smith by die Cheetahs as hoofafrigter te vervang, is klaarblyklik in onguns by sy werkgewer oor die Kings se geploeter in die Pro14-reeks.

Deon Davids

Die voormalige Springbok Thando Manana se twiet dat die nuwe aandeelhouers van die Southern Kings Davids wil afdank, is voorafgegaan deur ’n gespanne verhouding tussen die rolspelers.

Davids was kort ná die aankondiging dat die nuwe konsortium oorgeneem het, uitgesluit van talle besluite wat ’n regstreekse impak op sy rol as afrigter het.

Wrywing het ook die afgelope tyd tussen Davids en die gewese Springbok-voorryman Robbie Kempson opgebou. Kempson is deesdae die Kings se hoëprestasie-bestuurder.

Davids moes glo ook in die koerante van Kempson se aanstelling lees.

Daar word ook gesê dat presiese pligstate ontbreek wat veral die kontraktering van spelers en die bestuurspan betref.

Gesprekke is glo ook gevoer en besluite geneem oor Davids se afrigting en bestuurspan sonder dat hy deel daarvan was.

Die Kings-afrigter het ook geen insette gehad in die lys van 20 name van spelers wat deur Kempson opgestel is en van ontslae geraak sal word nie.

Hy het ook nie geweet wie die nuwe spelers is wat gekontrakteer is of met wie onderhandel word nie.

In sy termyn as Kings-breier moes Davids met die minste klaarkom. ’n Geldtekort het daartoe gelei dat hy met net 17 spelers die seisoen moes begin en daar was ook nie veel kans vir voorbereiding vir die Pro14-reeks nie.

Tog sê een van die ingeligtes met wie Rapport die week gepraat het, Davids het genoegsame ondersteuning in sy termyn daar gekry.

Volgens dié ingeligte het Kempson ook net sy werk gedoen en is daar geen spanning tussen hom en Davids nie.

Die kontraktering van spelers is glo aan Kempson gegee omdat hy volgens die nuwe base ’n beter taak as Davids daarmee sou verrig.

Kempson het glo ook met Davids oor sy afrigtingspan gepraat.

Dit is egter duidelik dat die verhouding tussen die Kings en Davids nie goed is nie.

Davids se kontrak verstryk eers in Julie 2020. Maar as hulle Woensdag groet, sal sy pos geadverteer word.

Die Haaie se Sean Everitt word as ’n sterk aanspraakmaker beskou om Davids in die Baai te vervang.

Die Kings het planne gehad om hom vorentoe te betrek as ’n hulpafrigter. Daar is egter nou selfs sprake dat Everitt as die tussentydse hoofafrigter aangestel sal word.

Bewerings dat Chean Roux, afrigter van die Junior Bokke, oorweeg word, word ten sterkste ontken.

Piet Heymans, wat Davids verteenwoordig en die uitvoerende hoof van Sport Employees Unite is, het by navraag aan Rapport gesê sake is nou te sensitief om kommentaar te lewer.

André Rademan, president van die OP-rugbyunie, wou ook nie verder oor die kwessie uitbrei nie.

“Vanweë die sensitiewe aard van die saak, kan ek tans net sê dat ons dit binne die strukture van die OP hanteer,” het Rademan gesê.

Meer oor:  Southern Kings  |  Deon Davids
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.