Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Benetton trap Bulle in Treviso-eindstryd
Die Bulle se Cornall Hendricks soek Saterdagaand deurkomkans in die Reënboogbeker-eindstryd teen Benetton in Treviso.Foto: Gallo Images

Splendido, Benetton!

Daar is die laaste paar dae gemor dat ’n eindstryd tussen die Bulle en Benetton beswaarlik een vir die connoisseur van die spel is en dat ’n Leinster of Munster veel beter teenstand vir die besoekers van Pretoria sou wees.

Benetton het egter diegene wat Italiaanse rugby vlak kyk, ’n wind laat sluk toe hy die Bulle, die Suid-Afrikaanse spogspan, Saterdagaand met 35-8 in die Reënboogbeker-eindstryd in Treviso verneder het.

En die slagting kon selfs groter gewees het as Benetton se losskakel, Paolo Garbisi, beter pale toe gekorrel het.

Eerste indrukke is blywend en dié ontmoeting was veronderstel om Suid-Afrikaanse rugby se groot toetrede tot die nuwe Verenigde Rugbykampioenskap te vier.

Wát ’n ontnugtering!

As plaaslike rugbyondersteuners onder die indruk was ons sogenaamde Groot Vier gaan hul gewig in dié kompetisie teen spanne soos Benetton rondgooi, dink gerus weer.

As plaaslike rugbyondersteuners onder die indruk was ons sogenaamde Groot Vier gaan hul gewig in dié kompetisie teen spanne soos Benetton rondgooi, dink gerus weer.

Was die tuisspan so voortreflik of die Bulle so treurig?

Die Bulle het hul ondersteuners in die aanloop tot die eindstryd verseker hulle gaan nie vakansie in Italië hou nie.

Franco Smith

Geoordeel aan dié lamlendige vertoning Saterdag, kon Marcell Coetzee (kaptein) en sy span maar netsowel van die oefenveld weggebly het.

Franco Smith, Italiaanse rugby se hoëprestasiehoof, het die afgelope week die saadjie van twyfel geplant toe hy gesê het die verleentheid om teen ’n Italiaanse span te verloor, sal die Bulle sekerlik onrustig laat.

Jy kan nie anders as om te wonder of die Vrystater agter die skerms ’n aandeel in die flou Bulle se ondergang gehad het nie.

Gaaf, die Bulle het regdeur onder die skeidsregter, Frank Murphy, se fluitjie deurgeloop en die strafdrie wat hy kort voor die rustyd aan die tuisspan toegeken het, was op sy beste beskou, twyfelagtig.

Coetzee-hulle kon egter nooit ’n houvas op die wedstryd kry nie en het in die tweede helfte ’n nulletjie gehad om te wys vir hul moeite.

Die Ligbloues was uit die staanspoor traag op die voordeellyn en Monty Ioane, Aussie-vleuel van Benetton, het kort ná die afskop gaan druk toe hy sy direkte teenstander, Madosh Tambwe, aan die buitekant geklop het.

Die Bulle was boonop die kluts kwyt in die lynstane en Corniel Els, die voormalige Bulle-haker, het ’n verspot maklike drie vir die tuisspan gedruk toe die Ligbloues Ivan van Zyl op skrumskakel met slordige besit in hul doelgebied onder druk geplaas het.

Daar was ook vrot besluitneming wat die Bulle gekortwiek het. Soos Marco Jansen van Vuren wat vergeefs vir die hoekvlag gemik het met drie van sy spanmaats aan sy binnekant en ’n oop doellyn wat wink.

Daar was ook vrot besluitneming wat die Bulle gekortwiek het. Soos Marco Jansen van Vuren wat vergeefs vir die hoekvlag gemik het met drie van sy spanmaats aan sy binnekant en ’n oop doellyn wat wink.

Die benadering voor die rustyd was om oënskynlik die bal in Jayden Hayward, heelagter van Benetton, se keelgat af te skop en dié Kiwi het nie op hom laat wag met sy teenaanvalle nie.

Die Bulle het kennelik die Bok-bielies Duane Vermeulen, Marco van Staden en Trevor Nyakane in die pak gemis, om nie eens te praat van Morné Steyn in die nr. 10-trui nie.

Sonder Steyn was die Bulle rigtingloos en takties onbeholpe.

Maar op ’n dag wat die Bulle se besit só skraps was, sou selfs Steyn onder druk gewees het.

Die voormalige Stormers-skrumskakel Dewald Duvenage, kaptein van die seëvierende Benetton, laat loop die bal in Saterdagaand se wedstryd teen die Bulle. Foto: Gallo Images

Laat dié spelers se afwesigheid nie ’n verskoning wees nie.

Benetton is ’n waardige kampioenspan en het die Bulle ’n rugbyles geleer.

Dit was ironies twee Suid-Afrikaners, Els en Dewald Duvenage, die voormalige Stormers-skrumskakel wat Benetton aanvoer, wat aan die voorpunt van die span se onverwagse sprankelsege was.

Duvenage was flink agter die oond en sy besluitneming was eersteklas.

Puntemakers:

Benetton 35 (20). Drieë: Monty Ioane, Corniel Els, Strafdrie, Michele Lamaro, Edoardo Padovani. Strafdoele: Paolo Garbisi (2). Doelskop: Garbisi.

Bulle 8 (8). Drie: Madosh Tambwe. Strafdoel: Chris Smith.

Meer oor:  Madosh Tambwe  |  Italie  |  Suid-Afrika  |  Bulle  |  Rugby  |  Benetton
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.