Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Benji droom van daai Bok-baadjie

Dit gaan ’n lang tyd wees voor daardie kenmerkende telefoonoproep met die rugbybal weer gesien word. Of gaan dit?

Die speler verantwoordelik hiervoor, die Cheetahs se veelsydige agterspeler Rayno Benjamin (34), is vir eers klaar met Vrystaat-rugby. Maar nié met rugby nie.

Die veelsydige agterspeler Rayno Benjamin in aksie vir die Vrystaat-Cheetahs in die Curriebeker-reeks. Foto: Gallo Images

Sy laaste wedstryd in ’n Cheetahs-trui was op 9 September teen Munster in Limerick in die Pro14-reeks.

Benjamin het die afgelope naweek vir die Cobra Select-uitnodigingspan in Dubai teen ’n ontwikkelingspan van Duitsland in ’n internasionale uitnodigingstoernooi gespeel. Dit was op uitnodiging van rugbyvriende in Amerika.

Benji, soos die speler oor die algemeen bekend staan, is tans besig met sy studies in digitale bemarking aan die Universiteit van Kaapstad.

Sy kontrak met die Vrystaat Rugbyunie het aan die einde van Oktober verstryk. Dit is nie verleng nie.

Dié boorling van St. Helenabaai aan die Weskus se eersterangse loopbaan het in 2004 by die Boland-Kavaliers begin.

Hy het ook ’n draai by die Goue Leeus en Stormers gemaak voordat hy hom in 2011 by die Cheetahs gevestig het.

Hy het in 202 eersterangse wedstryde gespeel waarin hy 89 drieë gedruk het.

Hy was tussen 2005 en 2007 en toe weer in 2013 en 2015 ook in 33 toernooie vir die Blitsbokke in aksie.

“Ek het my tyd by die Vrystaat geniet, maar dit was ook my moeilikste besluit om die Blitsbokke vaarwel te roep om hiernatoe te kom. Ek kon darem met tye weer teruggaan wanneer hulle my nodig gehad het, mits ek nie beseer was nie.”

Wat sy speeldae by die Cheetahs betref, sê hy sonder om te aarsel, Naka Drotské was die beste afrigter onder wie hy gespeel het.

“Die soort rugby wat die Cheetahs gespeel het my gepas en dit is hoekom ek na hulle gegaan het. Ek was lank by hulle en het my rugby geniet.”

Hy erken hy sou graag deel wou wees van die Cheetahs se Pro14-veldtog.

Benjamin sê hy het goeie vriende op die rugbyveld gemaak; vriende wat hom harde bene laat kou het.

“Toe ek nog Superrugby gespeel het, was spelers soos Lote Tuqiri van die Waratahs en Sitiveni Sivivatu van die Chiefs die taaiste spelers teen wie ek te staan gekom het. Daar was nog baie ander, maar dié twee staan uit.”

Hy droom intussen nog van ’n 35ste toernooi vir die Blitsbokke – dit is wanneer ’n speler sy Springbokbaadjie kry. Hy benodig nog twee toernooie daarvoor.

“Ek fokus nou daarop om fiks te bly en ja, ek wil graag in 35 toernooie speel. Wie weet wat die toekoms inhou?”

Meer oor:  Rayno Benjamin  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.