Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Beroepsrugby nie maanskyn en rose

Mammie, Pappie, hier’s die plan: die Springbokke se oorwinning in die Wêreldbeker-eindstryd het my nou so geïnspireer dat ek besluit het ek gaan ook ’n beroepsrugbyspeler word!

Dis sekerlik die woorde wat baie ouers in die komende dae uit hul seuns of dogters se mond gaan hoor of reeds gehoor het.

Jy moet bereid wees om woestaards soos die Fransman Sebastian Chabal die stryd aan te sê as jy ’n beroepsrugbyspeler wil word. Foto: Getty Images

Van die ouers sal verheug wees en ander sal ’n hartkramp kry van bekommernis.

Dit sal veral diegene wees wat iets meer van beroepsrugby af weet, wat na die kalmeerpille sal gryp.

Want dis bitter min spelers wat dit regtig tot by die hoogste vlak maak.

Daar is net ’n sekere aantal spanne wat net ’n sekere aantal spelers kan bekostig.

Ja, al hoe meer spelers kry deesdae speelkans oorsee, maar dit is ook nie ’n versekering dat dit eindelik iets meer gaan wees as net ’n paar avontuurlike jare nie.

’n Rugbyloopbaan is in die meeste gevalle kortstondig. Daar is baie mededinging om plekke en die swaard van beserings hang voortdurend bo ’n speler se kop.

Dit is waarom iemand soos die voormalige Springbok-hulpafrigter Alan Solomons altyd die jong spelers aangemoedig het om ’n Plan B te hê.

“Gaan studeer of doen ’n kursus in jou vrye tyd,” het hy altyd gesê, want in sy baie jare as afrigter het hy te veel spelers in hul middel dertigs benoud sien rondkrap vir werk.

Onthou, dis nie almal wat so ’n groot salaris gaan verdien dat hy of sy ’n eie onderneming kan begin nie.

En al begin jy jou eie onderneming en jy weet nie hoe om dit aan die gang te hou nie, dan help dit jou ook maar niks.

Iemand wat alles weet van die slaggate van beroepsrugby is John Daniell.

Hy het in 1996, toe beroepsrugby amptelik en openlik ’n werklikheid geword het, ’n rugby-huursoldaat (sy beskrywing) geword.

Ons doen dit vir geld en vir die liefde van die spel, maar hoofsaaklik vir geld.

“Ons doen dit vir geld en vir die liefde van die spel, maar hoofsaaklik vir geld,” sê Daniell.

Hy was ’n belowende speler, wat in 1992 vir Nieu-Seeland se o.21-span slot gespeel het.

’n Skouerbesering het sy loopbaan vroeg-vroeg laat steier en hy kon nie ’n kontrak by een van Nieu-Seeland se Superrugby-franchises kry nie.

Hy het toe maar in 1997 besluit om in Frankryk te gaan speel. Eers vir Racing 92, toe vir Perpignan en later vir Montpellier.

In 2007 het hy ’n boek oor sy ervaringe gepubliseer. Dis getiteld Confessions of a Rugby Mercenary.

Daniell het ’n paar pryse daarvoor gewen en dit bly die moeite werd vir voornemende beroepsrugbyspelers om dit te lees.

Nie almal sal dieselfde ervaring hê nie, maar Daniell lig twee goed uit – beserings en daardie hol gevoel wanneer jy weet jou loopbaan staan einde se kant toe en jy weet nie mooi wat om dan te doen nie.

“Toe ek in 1997 in Frankryk aankom, was ek geskok deur die geweld,” skryf Daniell.

In sy eerste wedstryd in Frankryk is daar vingers in sy oë gedruk en is hy aan die testikels beetgekry.

Hy het besef dat dinge nie oral dieselfde gedoen word nie. By Castres was daar byvoorbeeld ’n afrigter (Laurent Seigne) wat voor ’n wedstryd een van sy spelers se neus met sy kop afgeslaan het. Seigne het gehoop dit sou die speler lekker motiveer.

Tot in die oefeninge het dit wild gegaan. Spelers van oral in die wêreld ding by ’n klub mee om ’n plek en van daardie manne is rof.

Soos Mamuka Gorgodze, wat vanjaar nog vir Georgië in die Wêreldbeker-toernooi gespeel het.

Daardie tyd was Gorgodzilla, soos hy genoem word, nog ’n jong mannetjie, maar hy het nie geweet van terughou in oefeninge nie.

Die een dag toe loop hy die Suid-Afrikaanse senter Rickus Lubbe onderstebo. Toe Rickus hom iets toesnou, raak Gorgodzilla mal.

John Daniell met een van verskeie pryse wat hy vir sy boek Confessions of a Rugby Mercenary gewen het. Foto: Getty Images

“Dit het vier manne geneem om hom te kalmeer. Hy het gedink Rickus vloek sy ma,” skryf Daniell.

Van die wedstryde was woester as woes. Daniell kry nou nog nagmerries waarin hy droom van die bebaarde Sebastian Chabal, wat ’n “swaeltjie-duik” in ’n “fracas” maak in sy opgewondenheid om deel van die geveg te word.

Dit was ook nie ongewoon dat die voor- en agterspelers van dieselfde span agter die pale op mekaar skree en mekaar te lyf gaan nie.

Daniell was aanvanklik ’n outomatiese keuse vir die spanne waarvoor hy gespeel het.

Soos die seisoene verbygegaan het, het hy egter al hoe meer beserings opgedoen en is hy algaande deur jonger spelers uitgestoot.

“Ek is verskeie keer uitgeslaan, ek het ’n skouer ontwrig, ’n oordrom gebars, ek het beentjies in my hande en voete gebreek, ek het ’n spier in my arm geskeur, ’n ernstige skouerbesering opgedoen, knieë en enkels geswik of erger, kopwonde opgedoen, kneusplekke oral op my lyf gekry en ek het vandag blomkoolore,” skryf Daniell.

Die ergste was egter die kniebesering wat rekonstruksie nodig gehad het en eindelik die einde van sy speeldae beteken het.

Nee, dis nie waar nie. Die ergste was toe hy met sy gekrokte knie nie meer die span kon haal nie.

Want selfs met ’n gekrokte knie, wil jy steeds speel as die liefde vir rugby in jou are bruis.

Gelukkig vir Daniell het hy darem as jongman ’n graad in Engelse literatuur verwerf.

Hy is deesdae ’n sportskrywer, wat sowaar nog steeds in Frankryk woon.

Meer oor:  Bokke  |  Alan Solomons  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Superrugby  |  Wêreldbekerrugby  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.