Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Besering dwing Stean uit Leeus-stryd

Die Leeus sal die Haaie Saterdag in Durban sonder die fisiekheid van Stean Pienaar aandurf, nadat hy Donderdag kort voor die spanaankondiging ’n dyspier beseer het.

Die Leeus-vleuel Stean Pienaar vroeër vandeesweek op die oefenveld. Hy het Donderdag ’n besering opgedoen, wat hom uit die kragmeting met die Haaie gedwing het. Foto: Gallo Images

Die Johannesburgers het vier veranderinge aangekondig aan die vyftiental wat op Kingspark sal uitdraf, met drie daarvan – op heelagter, regtervleuel en nr. 5-slot – veroorsaak deur die beseringspook.

Soos verwag neem EW Viljoen die 15-trui oor by die beseerde Tiaan Swanepoel, terwyl Reinhardt Nothnagel in die lynstaan sal rank in Wilhelm van der Sluys se plek. Pienaar word vervang deur die spoedvraat Rabz Maxwane, wat sy kans die laaste weke geduldig moes afwag nadat hy ook van ’n dyspierbesering herstel het.

“Ons weet Stean is ’n fisieke speler en Rabz is in daardie opsig heeltemal anders,” het die Leeus-afrigter, Ivan van Rooyen, gesê. “Hy is meer van ’n resiesperd – hy is regtig vinnig en kan met daardie spoed drieë druk en iets uit niks maak. Hy het nou twee goeie weke op die oefenveld gehad nadat hy van sy seer dyspier herstel het en is gretig om sy stempel af te druk.”

Rabz Maxwane bokspring vroeër vanjaar oor die Stormers se Abner van Reenen. Maxwane het die potensiaal om die Haaie-verdedigers Saterdag te laat bontstaan. Foto: Gallo Images

Die ander verandering is in die voorry. Carlu Sadie sal in Jannie du Plessis se plek op vaskopstut sak, met Asenathi Ntlabakanye op die bank om in die tweede helfte by hom oor te neem.

Van Rooyen-hulle het besluit om die jong lostrio wat verlede week teen die Bulle uitgedraf het te behou, nadat hulle hul goed van hul taak gekwyt het op Loftus. Francke Horne, Vincent Tshituka en MJ Pelser het nie net goeie oomblikke met die bal in die hand gehad nie, maar die Bulle ook graag en gereeld by die afbreekpunte laat bontstaan.

“Ons het besluit om met hulle te volhard, want die drie komplementeer mekaar en is al drie harde werkers, wat ’n spesifieke rol speel,” het Van Rooyen gesê.

Soos verlede week sal die senter Dan Kriel voor uitdraf. Hy, sy sentermaat, Wandisile Simelane, en die plaasvervanger Burger Odendaal, wat later van die bank sal opkom, kan hul natuurlik vetsmeer vir ’n groot stryd in die middelveld teen die Bok-yster Lukhanyo Am en Jeremy Ward.

Kriel het gesê hy sien uit daarna.

Rugby op TV

Saterdag:

09:05: Aotearoa-eindstryd – Crusaders t. Chiefs.

11:45: Aussie-reeks, eindstryd –Reds t. Brumbies.

14:00: Interskole: Hoër Jongen­skool Paarl t. Grey Kollege (201, 206).

16:15: Reënboogbeker – Haaie t. Leeus.

18:15: Reënboogbeker – Stormers t. Bulle (alles op 201 en 211).

• Afskoptye.

“Jy wil week in en week uit teen die beste in die land speel, so ons is opgewonde. En dis lekker om vir Burger terug op die bank te sien – dis ’n groot hupstoot vir die agterlyn.”

Wat die Leeus se algemene spel verlede week teen die Bulle betref, het Kriel gesê hulle het hulself in die laaste 20 minute in die voet geskiet met “swak dissipline en besluitneming”.

“Dis iets waaraan ons hierdie week hard gewerk het, sodat dit nie teen die Haaie weer gebeur nie,” het hy gesê.

Leeus: EW Viljoen, Rabz Maxwane, Wandisile Simelane, Dan Kriel, Courtnall Skosan, Fred Zeilinga, André Warner, Francke Horn, Vincent Tshituka, MJ Pelser, Reinhard Nothnagel, Ruben Schoeman, Carlu Sadie, PJ Botha, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: Jaco Visagie, Nathan McBeth, Asenathi Ntlabakanye, Len Massyn, Emmanuel Tshituka, Morné van den Berg, Jordan Hendrikse, Burger Odendaal.

Meer oor:  Dan Kriel  |  Haaie  |  Leeus  |  Reënboogbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.