Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Besering hou Ruhan uit eindstryd

Die Blitsbok Ruhan Nel het Sondag die eindstryd van die Kaapstad-sewestoernooi misgeloop omdat hy las van ’n handbesering het.

Dit het op die nuuskonferensie ná die tyd rugbaar geword nadat Nieu-Seeland Suid-Afrika met 7-5 geklop het.

Ruhan Nel (middel) sing die volkslied saam met die Blitsbokke voor die aanvang van die eindstryd. Links is Selvyn Davids en regs Seabelo Senatla. Foto: Gallo Images

Die oë het omtrent gerek toe die eindstryd begin en die 28-jarige Nel by die plaasvervangers sit. Hy was immers vroeër Sondag in die kwarteind teen Kenia en later in die halfeind teen Frankryk een van die uitblinkers met sy inklimspel.

Dit was duidelik dat sportskrywers antwoorde van Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, geëis het oor die nederlaag. Daar is algemeen verwag dat die Blitsbokke die eindstryd op ’n drafstap sou wen.

“Ruhan het reeds voor die halfeind ’n handbesering opgedoen. Hy kon nie regtig ’n bal vang of duikslae uitvoer nie.

“Ons het besluit om hom op die plaasvervangersbank te sit en hom te gebruik as ons hom nodig het. Weer eens gaan dit oor die welstand van die speler.

“Ons het hom by die Westelike Provinsie geleen en moet seker maak dat ons hom in dieselfde toestand terugbesorg. Dit is ’n moeilike situasie, maar in ons stelsel sal die welstand van die spelers altyd eerste kom,” sê Powell.

Boonop het Kurt-Lee Arendse ook die laaste dag se aksie weens ’n heupbesering misgeloop.

Nel is een van vier spelers wat hulle nou weer by hul onderskeie unies vir die Superrugby-reeks aansluit. Die ander is Seabelo Senatla, Dylan Sage en Rosko Specman.

Rosko Specman in aksie in die eindstryd teen Nieu-Seeland. Foto: Gallo Images

Die Kiwi’s het geweet dat Suid-Afrika met balbesit onkeerbaar is, en het die bal van die tuisspan af weggehou. Boonop is iemand soos Senatla fyn dopgehou en min beweegruimte gegun. Maar die Blitsbokke het ook foute gemaak, soos om twee lynstane te verloor, iets wat nie in ’n eindstryd bekostig kan word nie.

“Ons het byvoorbeeld in die eerste helfte ’n skrum in hul kwartgebied gehad sonder om te gaan druk. As ons sulke balbesit en gebiedsvoordeel kry, wil ons punte op die telbord kry.

“Daar was een of twee geleenthede wat ons deur ons vingers laat glip het, maar ek dink die ouens het ’n reuse- poging aangewend,” sê Powell.

Met ’n fanatiese skare wat omtrent soos een man die Blitsbokke ondersteun het, was die nederlaag ’n teleurstelling. Die Kiwi’s het nie net die skare stil gespeel nie, maar ondersteuners het ook sekondes nadat die eindfluitjie geblaas het, die stadion in stilte en kopomlaag verlaat.

Nieu-Seeland het met die oorwinning vergoed vir die nederlaag wat hy verlede naweek aan die hand van die einste Suid-Afrika in die eindstryd van die Dubai-toernooi gely het.

Hoewel die nederlaag seermaak, is die realiteit dat die Blitsbokke saam met die Kiwi’s boaan die punteleer is. Ná twee toernooie in Wêreldrugby se sewesreeks is dit seker nie te versmaai nie.

* ’n Verdere pluimpie vir Suid-Afrika is dat drie van sy spelers, Nel, JC Pretorius en Specman, in die Droomspan van die toernooi ingesluit is.


Meer oor:  Sewes  |  Neil Powell  |  Blitsbokke  |  Nieu-Seeland  |  Kaapstad-Sewestoernooi  |  Ruhan Nel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.