Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Albert Heenop gesels met André Snyman
‘Besering, transformasie eis my droom’
Wat het geword van...

Suid-Afrikaanse afrigters se spore lê oral in die wêreld van rugby. Maar min van die SA breiers bevind hulle oorsee op die skoleverhoog.

Snyman duik oor vir ’n drie teen Skotland op Murrayfield. Foto: Gallo Images

Een van die uitsonderings is die voormalige Springbok-senter André Snyman, wat maar pas by Hill House School in Doncaster in Yorkshire, Engeland, in die pos van hoofafrigter ingeval het.

“Ek het vir Leeds gespeel en is mal oor Yorkshire,” vertel Snyman (45) oor sy nuwe pos.

“Toe ek deur een van my oud-spanmaats te hore gekom het van die vakante pos by Hill House, het ek onmiddellik aansoek gedoen.

“Ek geniet dit om rugby onder die jeug te help ontwikkel en Hill House is geweldig sportgeoriënteerd.

“My dogter en seun gaan ook daar skool, so ek’s bevoorreg om ook by hulle rugby-ontwikkeling betrokke te wees.

“Keira (11) hou van perdry en lees, en is ’n uitstekende rugbyspelertjie. Sy is mal daaroor om teen die seuns te speel en het Amerika op o.12-vlak verteenwoordig.

“En rugby is Quan (10) se lewe; hy oefen elke dag. Hy is ook ’n kranige gholfspeler en neem deel aan boogskiet.

“Die kinders is uiters onafhanklik en wêreldwys omrede hulle so baie saam met ons gereis het.”

André en Phillipa, sy vrou, het tydens die Springbok-reeks teen die Britse Leeus in 1997 ontmoet.

“Ons het egter elkeen ons eie rigting ingeslaan ná die Leeu-toer. Sy was onder meer ’n uitruilstudent in Amerika.

“Maar ons het in kontak gebly en die sterre het so opgelyn dat ons uiteindelik weer bymekaar uitgekom het.

“Phillipa is my grootste ondersteuner en ’n rots wanneer die lewe partymaal nie lekker sin maak nie.

“Volgende maand sal ons 12 jaar getroud wees.”

Snyman het ook vyf jaar in Denver, Colorado, deurgebring, waar hy die Glendale Raptors met groot sukses afgerig het. Die Raptors het twee agtereenvolgende Pacific Rugbykampioenskap-titels gewen. Snyman is toe aangewys as die topafrigter van die Pacific Premierliga.

Hy is egter nie heeltemal oortuig dat Amerika die sluimerende reus van wêreldrugby, en spesifiek 15-manrugby, is nie.

“Daar moet nog heelwat water in die see loop voor dit gebeur,” meen hy.

“Daar is positiewe tekens; hulle het die nuwe Major Rugby League ingestel en internasionale afrigters en spelers van oorsee ingebring. Die vraag is net: Is dit volhoubaar, want die toeskouergetalle is nog nie na wense nie.”

Die Snymans het nietemin die leefstyl in Amerika terdeë geniet.

“Ons mag selfs terugkeer eendag wanneer ons ervaringe hier in Engeland tot ’n einde kom,” sê hy.

“Die leefstyl in Colorado is baie buitemuurs-gerig, met aktiwiteite soos sneeuski, watersport, hengel, kamp en bergfietsry, asook sporte soos rugby, sokker en bofbal, wat uiters gewild is.

André Snyman saam met sy vrou, Phillipa, sy dogter, Keira, en sy seun, Quan. Foto: Verskaf

“Ons tyd in die VSA het ons ook die geleentheid gebied om Amerikaanse burgerskap te verkry, en dit verleen soveel meer opsies aan ons kinders eendag wanneer hulle ouer is.”

Colorado en South Yorkshire is wêrelde verwyderd van New­castle, Dannhauser en Dundee, in Noord-Natal, waar Snyman in die 1970’s gebore is en grootgeword het.

“Die feit dat ek op ’n plaas in ’n landelike gemeenskap grootgeword het, het my geleer om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie en hard te werk,” vertel hy. “Dit het ook sterk waardes vasgelê.

“En, om nou in verskillende wêrelddele te kan bly en werk, is wonderlik.”

Vir die boerseun van die Natalse platteland was sy 38 toetse vir die Springbokke iets baie spesiaal. So ook elkeen van sy tien toetsdrieë, veral die een 22 jaar gelede op Twickenham toe hy bykans 50 meter afgenael het in die Bokke se sege van 29-11 daardie dag oor die Engelse.

“En dit toe nogal op die 29ste van die 11de maand!

“Ek was uit posisie betrap op losskakel,” onthou hy, “en het eenvoudig hierdie muur van wit truie voor my gesien.

“Slegs Mark Andrews was links van my, toe besluit ek maar om self in kontak te gaan. Ek het egter daarin geslaag om deur die eerste linie te breek.

“Met net Matt Perry voor my, het ek besluit om ’n kans te vat met ’n binne-buite-swenk, en bietjie spoed, en dit het gewerk!”

Skaars twee jaar later, en minder as twee maande voor die 1999-Wêreldbeker sou afskop, het Snyman sy enkel in ’n frats-insident teen die All Blacks op Loftus Versfeld gebreek.

“Ek het ’n drie in die hoekie gedruk, maar Christian Cullen het my beetgekry net voor ek oor die doellyn geduik het en my enkel het onder hom beland. Ek het oombliklik ongelooflike pyn ervaar.

“Ek het besef my WB-droom was aan skerwe, en die pad na herstel sou lank en taai wees . . .”

Hoewel hy uiteindelik ten volle herstel het, het verdere WB-teleurstellings gevolg in 2003 en 2007.

“In 2003 het ek nie die WB-groep gemaak nie omdat ek klaarblyklik te oud was en jonger bloed ingebring moes word. Ek was egter slegs 29 en het van my beste rugby gespeel.

“In 2007 is ek uit my kontrak by Leeds gehaal omdat ek geoormerk was as een van die senior spelers in die WB-groep, maar toe steek transformasie ’n stokkie voor my insluiting in die span.

“Dit was in albei gevalle ’n bitter pil om te sluk en sommige mense mag gedink het dis suur druiwe, maar ek het geweet hoeveel waarde ek sou kon toevoeg.”

Dis dié dat Snyman toe uiteindelik sy loopbaan oorsee sou afsluit, eers vir Leeds en later Perpignan.

“Ek het by Leeds aangesluit aan die einde van 2003, en my drie seisoene saam met die Tykes was van die aangenaamste tye van my loopbaan. Ek was in staat om myself te kon uitleef binne die spelpatroon.

“Boonop kon ek uittree op my eie terme; nié as gevolg van ’n besering of die beëindiging van ’n kontrak nie.”

Meer oor:  André Snyman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.