Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Beserings spook by Poemas

Asof Covid-19 nie genoeg is nie, het die beseringspook ook nou ’n draai by die Argentynse span gemaak en hul voorbereiding vir die Rugbykampioenskap nog verder bemoeilik.

Mario Ledesma (met sy rug na die kamera), afrigter van die Poemas, saam met van sy spelers tydens ’n kragmeting by die Wêreldbeker-toernooi in 2019 in Japan. Foto: Getty Images

Die Poemas was veronderstel om Saterdag teen ’n Waratahs-vyftiental te speel, maar daar is tans te veel Argentynse spelers wat met skete en kwale sukkel.

Die Argentyne, wat tot vroeër vandeesweek in ’n bioborrel in Sydney was ná hul aankoms in Australië, is gretig om speeltyd te kry voordat hulle op 14 November teen die All Blacks te staan kom.

Maar, Mario Ledesma, afrigter van Argentinië, sê gegewe die feit dat heelparty van sy spelers niks rugby in sewe maande gespeel het nie, is sy fokus daarop om hulle in die beste moontlike fisieke toestand vir die wedstryde teen Nieu-Seeland en die Wallabies te kry.

“Ons sou die naweek gespeel het, maar daar is baie spelers met skete en ek wou nie daardie kans waag nie,” het Ledesma aan verslaggewers gesê.

“Die belangrikste ding is om gereed te wees . . . om mededingend te wees en hulle (teenstanders) harde bene te laat kou.”

Ledesma besef die reeks gaan ’n tamaai uitdaging aan sy span stel, gegewe die feit dat die ander twee spanne albei ’n plaaslike Superreeks én toetsrugby agter die blad het.

Mario Ledesma, afrigter van die Poemas. Foto: Getty Images

“Rugbygewys weet ek nie waar ons ons bevind nie, maar ons is sielkundig op ’n goeie plek. Australië en Nieu-Seeland speel regtig baie goed. Daar is baie intensiteit in hul spel en hulle is baie fisiek.

“Ons ouens het in sewe of agt maande nie een skrum teen ’n behoorlike teenstander gehad nie, hulle het net teen hulself gespeel.”

Die Poemas is deur ’n vlaag van Covid-19-infeksies getref voor hul vertrek na Australië, met meer as ’n dosyn spelers en afrigters wat positief getoets is vir die virus.

Die meeste van die span het vroeg in Oktober in Sydney aangekom en twee weke in kwarantyn deurgebring. ’n Verdere 13 spelers, wat hul brood en botter in Europa verdien, het eers dié week in Australië aangekom en moet nou ook 14 dae in kwarantyn deurbring.

“Die dinamika van die span is nie soos wat dit gewoonlik met ’n toer sal wees nie. Ek is egter trots op hoe positief en nederig die ouens bly gedurende oefeninge. Om in die Rugbykampioenskap te speel, is iets massief.” – Reuters

Meer oor:  Mario Ledesma  |  Poemas  |  All Blacks  |  Rugbykampioenkap  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.