Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Beskeie Shakes lei Blitse met voorbeeld

Dit was vir Siviwe Soyizwapi ’n betreklik maklike taak om Sondag in die groot skoene van die Blitsbokke se kaptein, Philip Snyman, te stap om die span aan te voer tot hul eerste toernooi-sege in die Vancouver-sewes.

Soyizwapi (26) en sy jong spanmaats het met ’n kwiksilwer-vertoning die beker beklink en volgens die vleuel, wat maar eers onlangs tot die leiersgroep van die Springbok-sewesspan gevoeg is, het Snyman en Brown, voormalige kaptein, dit vir hom maklik gemaak om daardie tamaai taak op die veld te vervul.

Siviwe Soyizwapi is in die Vancouver-sewestoernooi op kort kennisgewing as Blitsbok-kaptein opgeroep en het die span na die titel gelei. Foto: Getty Images

“Ek is baie dank aan hulle albei verskuldig. Albei is uiters goeie leiers en toe ek by die sewes-opset aangesluit het, het ek reeds soveel klein dinge begin optel by hulle – op die veld en hoe hulle optree as leiers,” het die spoedvraat gesê.

Shakes, soos hy beter bekend staan, is deur Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, as die kaptein aangewys vir die laaste twee groepwedstryde nadat Snyman ’n kopbesering teen Argentinië in die kwarteindronde opgedoen het.

Hy het dié verantwoordelikheid egter met albei hande aangegryp in ’n uiters belangrike deel van die toernooi.

“Dit was vir my ’n groot eer om as kaptein uit te draf. Dit was eintlik ’n maklike taak, want elke speler is ’n leier in hul spesifieke posisie. Ek is net dankbaar dat die afrigters my met daardie rol toevertrou het. Dit het my meer laat glo in myself as ’n leier.

Daardie gevoel, om weer aan die wenkant te wees, kan ek nie beskryf nie.

“Ons het besef in Las Vegas het ons as ’n span nie saamgespeel nie, maar te individualisties. In Vancouver tydens ons vergaderings het ons besef ons sal die stelsel eerste moet plaas as ons sukses wil behaal.

“Daardie gevoel, om weer aan die wenkant te wees, kan ek nie beskryf nie. Ons het aan die begin (van die seisoen) gebou aan iets en daar was nuwe gesigte en nuwe kombinasies wat mekaar dalk nie so lekker gevind het nie. Coach Neil het ook aan ons gesê in die vertonings in Las Vegas waar ons so swak gevaar het, wys dat die mengsel van nuwe en ervare spelers beslis besig is om beter te word.”

Volgens Powell was dit vir hom ’n maklike keuse toe daar oor ’n nuwe kaptein besin moes word. En al is Soyizwapi nie te lank by die sewes betrokke nie, is hy ’n uitstaande leier.

Die Blitsbok-afrigter het Soyizwapi as ’n ongelooflike mens beskryf en iemand vir wie hy baie tyd en respek het.

“Hy was die perfekte plaasvervanger vir Philip,” het Powell Woensdag gesê.

“Hy het die respek van al die spelers in die span en dis waar dit begin vir ’n leier. As jy die respek van jou spanmaats het, dan is dit reeds ’n bonus. Ek is baie tevrede met die wyse waarop hy die span gelei het toe Philip nie beskikbaar was nie.”

Meer oor:  Vancouver  |  Kanada  |  Blitsbokke  |  Sewesrugby  |  Siviwe Soyizwapi  |  Sewes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.