Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Beste van twee wêrelde’ vir SA rugby
Twee van Suid-Afrika se top-afrigters glo die Springbokke se jaarlikse wedywering met die All Blacks in die beroepsera het gesorg dat die standaard van die plaaslike spel hoog bly. Foto: Getty Images

Die Bulle-breier, Jake White, sê Suid-Afrikaanse rugby sal “die beste van twee wêrelde” kry deurdat die Springbokke deel bly van die Rugbykampioenskap en die land se vier Superrugby-franchises voortaan teen Europese spanne in ’n Pro16-reeks deelneem.

White het so gesê in reaksie op Sanzaar se aankondiging dat Suid-Afrika vir die volgende dekade deel sal bly van die Rugbykampioenskap en ook dat die formaat van dié reeks sal verander, sodat mini-toere weer sal kan plaasvind, berig Cobus Claassen.

“Ons speel in die Noordelike Halfrond, maar ook steeds elke jaar teen die All Blacks. Ek is bietjie ou skool en sou graag langer toere en toetsreekse teen Nieu-Seeland soos in die verlede wou sien.”

Daar moet geen twyfel wees oor watter voordeel dit vir ons rugby die afgelope tien, vyftien jaar ingehou het om teen Nieu-Seelandse spanne te speel nie.
Jake White

“Daar moet geen twyfel wees oor watter voordeel dit vir ons rugby die afgelope tien, vyftien jaar ingehou het om teen Nieu-Seelandse spanne te speel nie.

“Die Bokke het in dié tydperk twee Wêreldbekers gewen, wat wys dat iets gewerk het.”

White sê dit sal ’n nuwe en ander uitdaging wees vir die Suid-Afrikaanse franchises om in ’n Pro16-kompetisie te speel.

“Ons ding in die noorde mee en speel nog elke jaar teen die All Blacks en die Wallabies. Dit is ’n wen-wen-situasie vir ons.”

Ivan van Rooyen, die Leeus se breier. Foto: Gallo Images

“Asseblief, ek wil myself nie voorhou as ’n internasionale afrigter of iemand wat daar gespeel het nie, maar dis beslis ’n goeie maatstaf om ons te kan meet teen Nieu-Seeland en Australië.



“Ons het nou vir jare teen hulle gespeel en die soort rugby wat hulle speel, het ons skerp gehou.

“Die feit dat ons ook in die noorde gaan speel, gaan ’n ander uitdaging wees, maar dis altyd goed om jou te kan meet teen Nieu-Seeland, wat konstant in die top-2, top-3 in die wêreld is. En Australië gaan onder Dave Rennie ook baie opwindend wees in terme van die tipe rugby wat hulle wil speel.

Om week in en week uit teen Europese spanne te speel en op toetsvlak onsself te meet teen daai ouens (Nieu-Seeland en Australië), gaan baie goed vir Suid-Afrikaanse rugby wees.
Ivan van Rooyen
“Om week in en week uit teen Europese spanne te speel en op toetsvlak onsself te meet teen daai ouens (Nieu-Seeland en Australië), gaan baie goed vir Suid-Afrikaanse rugby wees.”

• Rapport berig intussen dis nie ’n uitgemaakte saak dat die Bokke vir die komende dekade deel van die Rugbykampioenskap sal bly nie.

Luidens ’n berig in dié koerant was Sanzaar se aankondiging voortydig en kan die Bokke reeds van 2024 af deel word van die Sesnasies-reeks.

Die rede hiervoor is glo dat die aandeelhouerkapitaal-maatskappy CVC, wat reeds groot belange in rugby in Europa het, daarin belanstel om in SA rugby te belê en die Bokke dan deel van Europa se pronk-toetsreeks te maak.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se hoofraad moet nog stem oor waar die Bokke se heil lê en om dié rede word geglo dat Sanzaar die kar voor die perde ingespan het, lui die berig in Rapport.

Springbokke
Suid-Afrika vier sy titel in die Rugbykampioenskap in 2019. Foto: Getty Images
Vanjaar se Rugbykampioenskap moes noodgedwonge in ’n “Drienasies-reeks” tussen Australië, Nieu-Seeland en Argentinië omskep word toe Saru die Bokke aan vanjaar se reeks onder meer om spelerwelstand-redes, wat deur die Covid-19-pandemie teweeggebring is, onttrek het.

Tussen 1996 en 2011 het die Bokke, All Blacks en Wallabies jaarliks in die Drienasies-reeks kragte gemeet, waarna Argentinië in 2012 by die kompetisie aangesluit en dit herdoop is tot die Rugbykampioenskap.

Die Sesnasies-reeks se huidige formaat het sy beslag in 2000 gekry, toe Italië hom by Engeland, Wallis, Ierland, Skotland en Franryk aangesluit het. Voor Italië se toetrede het die kompetisie as die Vyfnasies-reeks bekend gestel.


Meer oor:  Jake White  |  Ivan Van Rooyen  |  Suid-Afrika  |  Bokke  |  Saru  |  Sanzaar  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Sesnasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.