Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Robert kan nr. 10-trui dra teen Engelse
Robert kan nr. 10-trui dra teen Engelse

Geen rugbyspeler op die planeet het groter aanmoediging nodig nie as drie Springbok-baadjies wat in jou ouerhuis hang sonder dat een joune is.

Robert du Preez kon met ’n tikkie geluk einde verlede jaar ná ’n droomseisoen vir die Stormers en Westelike Provinsie soos sy broers, Jean-Luc en Dan, syne verwerf het. Sy pa, Robert, was op sy dag self ’n Bok-skrumskakel.

Robert du Preez oefen saam met die Haaie: Foto: Gallo Images

Robert jr. besef sy heldedade in die WP se verowering van die Curriebeker verlede jaar was ’n tree in die regte rigting om toetsrugby te speel, maar dat vorm al is wat sal saakmaak wanneer Rassie Erasmus sy eerste Springbok-groep bekend maak.

Rapport verneem die nuwe Bok-afrigtingspan het wel van sy vordering kennis geneem.

“Ja, dit is een van my persoonlike doelwitte om vanjaar vir die Bokke te speel,” het Du Preez gesê.

“Dit sal uiteraard ’n groot eer wees om die Bok-trui te dra.

“Ons is almal trots op JL en Dan. Ek dink hulle verdien elke ding wat tot dusver oor hul pad gekom het. Ek is seker hul grootste ondersteuner en is baie bly vir hulle.”

Die Du Preez-broers het nog nie oor die moontlikheid gepraat om saam aan volgende jaar se Wêreldbekertoernooi deel te neem nie.

“Ons het almal ons eie doelwitte. Ons almal wil daar wees. Sonder om ’n gesamentlike doelwit te hê, is ons al drie se persoonlike doelwitte om Wêreldbeker toe te gaan.”

Robert jr. het reeds twee belangrike kassies getiek toe Erasmus vroeër vanjaar voorraadopname op losskakel geneem het.

Dit was goed vir my loopbaan om weg te kom (van my ouerhuis af) en nuwe dinge te leer. Ek kan nou nie wag om als wat ek deur die jare wyser geword het hier by die Haaie te kom toepas nie.

Nog geen losskakel wat die Wêreldbeker gewen het, was jonger as 24 jaar nie. Hy voldoen aan dié sogenaamde vereiste. Robert jr. sal voor die begin van volgende jaar se Wêreldbeker in Japan 26 wees. Hy verjaar op 30 Julie.

“Iets wat belangrik is vir ’n tien, is om jou foute minder te maak en weekliks bestendig te wees. Ek het daarmee verbeter. Selfs my skopwerk en algemene gevoel vir die spel het die afgelope paar jaar verbeter.

“ ’n Mens raak net beter deur al hoe meer te speel.”

Robert du Preez ná die WP se Curriebeker-sege verlede jaar.Foto: Gallo Images

Met sy veelsydigheid sou Robert jr. nog ’n regmerkie by Erasmus kry. Iets wat ook sy kanse versterk om volgende jaar in die Bokke se groep van 31 spelers vir die Wêreldbeker ingesluit te word.

Hy, Frans Steyn, Handré Pollard en Pat Lambie is in die groep van veelsydige spelers wat goeie diepte op losskakel, binnesenter én heelagter bied. Curwin Bosch en Damien Willemse is ander wat in berekening sal wees.

Volhard hy met dieselfde vorm as verlede jaar, is daar ’n groot kans dat Robert jr. een van ’n groep spelers sal word wat vanjaar onder Erasmus se afrigting sy Bok-baadjie verwerf.

Die posisie as Bok-losskakel is nog vakant nadat Lambie, Elton Jantjies, Morné Steyn en Pollard om die beurt in 2016 en 2017 ’n kans gekry het.

Met net 18 toetse voor die Wêreldbeker, is daar nie veel tyd vir proefnemings nie. Erasmus-hulle het wel lankal begin huiswerk doen.

Hulle weet watter spelers verlede jaar hul kanse soos Du Preez aangegryp het. Erasmus-hulle woon al van begin vanjaar af weekliks die plaaslike franchises se oefenwedstryde, oefeninge en selfs videosessies by. Hulle leer elke speler ken en verseker dat hulle nie klomp vreemde stemme vir mekaar in Junie se toetse is nie.

Du Preez besef hy kan nie staatmaak op sy sukses in 2017 nie, maar dat sy spel in vanjaar se Superreeks swaar sal weeg wanneer Erasmus later vanjaar sy oefengroep vir die toets teen Wallis en drie toetse teen Engeland bekend maak.

“Dit was ’n groot aanmoediging om die WP verlede jaar op ’n hoë noot te kon verlaat. Ek het nie my spel verander nie. Ek wou maar net min foute maak en so bestendig moontlik wees.

“Ek het ook nie my skoptegniek verander nie. Skopwerk draai om selfvertroue. Ek was verlede jaar vol selfvertroue, grootliks omdat ek hard aan onder meer my skoppe geoefen het. Skopwerk is iets waaroor ’n mens nie te veel moet dink nie.”

Sy Kaapse draai het hom ook meer volwasse gemaak vanweë die aanpassings wat hy van die speelveld af moes maak. Dit is als voordelig vir sy spel.

“Dit was goed vir my loopbaan om weg te kom (van my ouerhuis af) en nuwe dinge te leer en goed op ander maniere te doen. Ek het baie daaruit geleer. Ek kan nou nie wag om alles wat ek deur die jare wyser geword het hier by die Haaie te kom toepas nie.”

Hy geniet sover elke oomblik terug in Durban.

“My aandag is op die Haaie se Superrugby-veldtog. Dis nou my grootste fokuspunt. Ons het ’n goeie groep en mengsel van spelers.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.