Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bielie-slot: ‘Ek het nog nooit rugby so geniet’

Die moontlikheid van toetsrugby was só ’n groot aanmoediging vir Paul Willemse dat hy sowat 12 kg afgeskud het voordat hy vandeesweek in Frankryk se Sesnasies-groep ingesluit is.

Dit was so hittete of die oud-leerling van die Hoërskool Monument in Krugersdorp het reeds in verlede jaar se Rugbykampioenskap vir die Springbokke sy toetsbuiging gemaak.

Paul Willemse vier Montpellier se oorwinning oor Harlequins in die eindstryd van die Europese Uitdaagbeker in 2016.Foto: getty images

Hy was op die Bokke se radar weens die onsekerheid wat oor Eben Etzebeth se beskikbaarheid vir dié reeks bestaan het nadat hy die toetsreeks teen Engeland weens ’n besering misgeloop het.

Lood de Jager was ook beseer. Etzebeth het uiteindelik betyds herstel vir die toets teen Argentinië in Durban nadat die Bokke aangedui het dat hulle vir Willemse oorweeg.

Hy het ook die keuse gehad om vir Namibië toetsrugby te speel. Ofskoon hy in Pretoria gebore is, was Willemse tot voordat hy in 2010 aan Monument gematrikuleer het ’n leerling aan Tsumeb Gimnasium. Hy is onder meer tydens sy skooldae in 2009 vir Namibië se Cravenweekspan vir hoërskole gekies.

Die 26-jarige Willemse, wat 2,01 m lank is en 132 kg weeg, het die week uit Montpellier aan Rapport gesê hy geniet sy rugby op die oomblik soos nog nooit vantevore nie.

“Om in die Franse groep ingesluit te word, is beslis een van die groter oomblikke in my lewe,” het Willemse gesê.

“Ek wil graag toetsrugby speel. Om in die Sesnasies te kan speel, sal ongelooflik wees. Ek geniet my rugby baie. Ek kan werklik nie op ’n beter plek in my lewe wees nie.

Die kolos Paul Willemse in aksie vir Montpellier.

“Ek het sowat 12 kg verloor sedert die begin van die seisoen. Toe ek terugkom vir die voorseisoense voorbereiding het hulle aan my gesê dit is baie moontlik om vir die Franse te speel. Ek het dít gebruik as aanmoediging om my kondisionering te verbeter.

“Ek is maar ’n groot en swaar speler. Werkverrigting is iets waaraan ek altyd sal bly werk. Dit was belangrik vir my om gewig te verloor sodat ek makliker oor die veld kan hardloop.”

Willemse speel sedert 2014 sy rugby in Frankryk. Voordat hy hom aanvanklik by Grenoble aangesluit het, het die Blou Bulle alles in hul vermoë gedoen om dié lid van 2012 se seëvierende Junior Bok-span te behou.

Hy het in daardie stadium met Flip van der Merwe meegeding om ’n plek in die Bulle se beginspan. Van der Merwe het hom sedertdien by die Franse klubspan Clermont aangesluit.

Willemse was reeds van verlede jaar af, nadat hy vir die Hane gekwalifiseer het, deel van die Franse afrigter, Jacques Brunel, se planne. Brunel wou egter eers hê Willemse moet sy burgerskap kry voordat hy hom kies.

“Ek is nou ’n Franse burger. Ek het my burgerskap op 28 November gekry.

“Ek besig met die finale proses om my paspoort te kry. Ek is nou soos ’n gewone burger wat vir die eerste keer aansoek doen vir ’n paspoort.”

Sy seun, Paul jr., is in Frankryk gebore en het ook sy burgerskap gekry.

Brunel het die week aan die amptelike webtuiste van die Sesnasies, gesê Willemse se spel maak hom opgewonde.

“Hy is een van die spelers met ’n besonder interessante profiel,” het Brunel gesê.

“Dis tyd om te sien of hy iets vir ons kan bring. Ons dink so.

“Ons sal hom die geleentheid bied om homself tydens die Sesnasies te bewys. Selfs al sal hy met ander spelers meeding.”

Onder die slotte met wie hy meeding om ’n plek in die beginspan, is Félix Lambey, Sébastien Vahaamahina en Arthur Iturria.

Dinge was nie altyd maklik vir die Willemse-gesin sedert hulle Frankryk hul tuiste gemaak het nie. Dit het baie opofferinge geverg.

“Ek is nou al sowat vier jaar by Montpellier. Dis ’n baie belangrike klubspan vir my. Ek het my kontrak onlangs tot 2022 verleng.

“Ek is baie gelukkig hier en geniet dit baie.

“Die aanvanklike aanpassing was moeilik, maar ek en my vrou, Chanique, het van die heel begin af besluit ons gaan dit maak werk. Ons het onder meer moeite met die taal en kultuur gedoen. Danksy dít pas ons jaarliks beter aan.”

Meer oor:  Paul Willemse  |  Frankryk  |  Toetsrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.