Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bietjie goeie nuus vir GW ná teleurstelling

Die goeie nuus vir Griekwas ná hul hartverskeurende nederlaag Saterdag teen die Goue Leeus, is dat Gideon van der Merwe se besering nie te ernstig blyk te wees nie.

Die Leeus het die Poubloues Saterdag met 20-17 in ’n Curriebeker-kragmeting Kimberley geklop, met die weerlig wat die spelers vroeg in die tweede helfte van die veld gedwing het.

Spelers van Griekwas vier een van die span se drieë Saterdag. Van links is Berton Klaasen (13), Johan Momsen, Gideon van der Merwe, James Verity-Amm, Cameron Lindsay en Zak Burger. Foto: Gallo Images

Op die ou einde is spel nooit hervat nie, nadat die tuisspan in ’n stadium in die eerste helfte met 17-3 voorgeloop het.

Van der Merwe (25) is beseer oomblikke voordat die spelers in die 48ste minuut van die veld is. Volgens Scott Mathie, afrigter van Griekwas, het dié flank ’n stamp teen die kop gekry.

“Ons moet net hoor wat die dokter sê oor die omvang van die besering. Maar hy loop rond en is oukei. Ons sal seker Maandag weet wat die pad vorentoe vir hom is,” sê Mathie.

Dat die nederlaag ’n bitter pil sal wees om te sluk, is nie altemit nie. Griekwas het in die eerste helfte drie goeie drieë, deur HJ Luus, Eduan Keyter en James Verity-Amm, gedruk en spoggerige spel opgedis. Hulle rolmaalbewegings was goed en hulle was stewig in die vaste fasette, terwyl hul samespel ook blink was.

Maar die Johannesburgers het laat in die eerste helfte ontwaak, met die vleuel Courtnall Skosan wat twee keer gaan druk het.

Teen rustyd was die Poubloues naelskraap met 17-13 voor, maar met die wind in hul seile in die tweede helfte het hulle geweet is ’n sege binne hul bereik.

Griekwas se vleuel Eduan Keyter het ’n paar Johannesburgers Saterdag met sy lopies besig gehou. Foto: Gallo Images

Toe, net voor die weerlig soos ’n dief in die nag gekom het, het die skeidsregter, Marius van der Westhuizen, ’n strafdrie aan die besoekers toegeken.

“Dit is baie teleurstellend. Dit is moeilik om sulke dinge te aanvaar as jy geen beheer daaroor het nie. Kyk, daar was gewis ’n paar dinge wat ons beter kon gedoen het in die laaste tien minute van die eerste helfte en ook aan die begin van die tweede helfte,” sê Mathie.

“Maar met 30 minute in die tweede helfte met die wind van agter, het ons ’n goeie kans gehad om te wen. Maar ons moet positief bly en voortbou op die positiewe aspekte van die eerste helfte.

“Die ouens speel met oorgawe en hul intensiteit is goed. Ons leer elke week teen gehalte-teenstanders en ek dink ons groei beslis – wat beslis die belangrikste ding is.”

Mathie-hulle, wat steeds segeloos vanjaar is, het nie baie tyd om te tob nie. Hulle kom Vrydagaand teen die Pumas in Mbombela te staan.


Meer oor:  Goue Leeus  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.