Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bietjie goeie nuus vir WP se spelers

Spelers het hul kontrakte en werknemers hoef nie oor hul salarissse bekommerd te wees nie.

Dít is die verblydende nuus uit die beleërde sakevleuel van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU), wat uiteindelik vir spelers hul beloofde kontrakte op skrif aangebied het en ook vir werknemers die versekering gegee het dat hulle nie oor hul salarisse bekommerd hoef te wees nie.

Pieter-Steph du Toit is een van die WP Rugbyunie se Springbokke wat deur die voortslepende geldkrisis geraak is. Foto: Gallo Images

Piet Heymans, uitvoerende hoof van die vakbond Sport Employees Unite, het Donderdag aan Netwerk24 gesê hy en sy lede is “verlig”.

“Paul (Zacks, die WP se uitvoerende hoof) het met die werknemers vergader, aan hulle verduidelik wat aan die gang is, en ook gemoedsrus gegee dat dinge onder beheer is en bestuur word. Ek was baie bly om dit te hoor,” het Heymans gesê.

Die kwessie met die spelers se kontrakte het gedreig om die Stormers se Superrugby-veldtog vir 2020 te verdoem nog voordat dit begin het.

Dít nadat die sakevleuel se direksie weens vrese vir roekelose handel brieke aangedraai het met kontraktering. Hulle was net bereid om kontrakte uit te deel as die unie se amateurarm, wat verskeie eiendomsbates besit, bereid sou wees om sekuriteit te verskaf.

Die unie dra reeds ’n swaar finansiële las nadat daar einde 2016 lenings met ’n somtotaal van R43,9 miljoen by die sakereus Remgro aangegaan is. Dit verdien sedertdien rente teen primakoers.

Die WP moes verlede jaar ’n verband registreer om vir Remgro sekuriteit vir die lening te gee.

Volgens Netwerk24 se inligting staan die unie nie borg vir die kontrakte wat nou aan spelers gebied is nie.

Paul Zacks (regs), die WP se uitvoerende hoof, het met die werknemers vergader en aan hulle verduidelik wat aan die gang is. Foto: Gallo Images

Dis eerder ’n geval van inkomste uit borgskappe wat die situasie beredder het, wat waarskynlik goeie nuus is omdat dit binne die konteks van die huidige magstryd die unie minder van ’n houvas op die maatskappy gee.

Of die aanbiedinge betyds gekom het om elke speler te behou, is nou ’n ope vraag.

Spelers mag van 1 Julie af met ander provinsies begin onderhandel. Dit maak dit ’n gevaarlike speletjie om tot kort voor die spertyd te wag om aanbiedinge uiteindelik op skrif te plaas.

Veral as daar aspekte van die kontrakte is waaroor spelers nog wil onderhandel.

Springbokke soos Siya Kolisi, Steven Kitshoff, Frans Malherbe en Pieter-Steph du Toit is almal deur die voortslepende krisis geraak.

Die samestelling van ’n groep spelers is ook ’n delikate toertjie gegewe die nuwe kontrakteringsmodel van Suid-Afrikaanse rugby.

Die nuwe model, wat oor drie jaar ingefaseer word, bepaal dat ’n unie net 45 beroepspelers mag kontrakteer en die gesamentlike begroting daarvoor nie R60 miljoen mag oorskry nie.

Meer oor:  Wpru  |  Zelt Marais  |  Stormers  |  Vakbond  |  Kaapstad  |  Paul Zacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.