Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Billy berou invloed van sy steun vir Folau

Die Engelse rugbyster Billy Vunipola is oorgehaal om nie sy span se voorbereidings vir die Wêreldbekertoernooi te ontwrig nie en is spyt oor die invloed op sy Saracens-spanmaats nadat hy vir Israel Folau in die bres getree het.

Billy Vunipola was uitgesproke in sy ondersteuning vir Israel Folau, maar is vir sy sienings gekritiseer. Foto: Getty Images

Vunipola (26) en Saracens is in April deur die Engelse Rugbyunie gewaarsku toe hy sy steun uitgespreek het vir die omstrede Wallaby Folau se plasing op sosiale media oor homoseksuele mense en dronkaards.

Maar Vunipola, soos Folau ’n stoere Christen, het destyds ook gesê: “Enigiemand wat my ken, weet ek lewe met goedhartigheid en liefde teenoor alle mense.

“My bedoeling was nooit om lyding te veroorsaak nie. My bedoeling was om my geloof in die Woord van God uit te spreek. Dit is ’n bron van groot krag, gerustheid en leiding in my lewe.”

Hy moes egter die nagevolge dra van sy ondersteuning vir Folau en is boonop op die veld uitgejou in die laaste klompie wedstryde van Saracens se afgelope seisoen.

“Die spyt wat ek het is dat ek my spanmaats in oneer geplaas het. Dit was iets wat ek nie regtig aan gedink het nie en dit was waarskynlik selfsugtig van my,” sê hy aan BBCSport.

“Dit is iets wat ek hier (saam met Engeland) wil vermy. Ek wil nie hê hulle moet beïnvloed word deur een persoon se mening nie.”

Folau se kontrak met Rugby Australië (RA) is in Mei nietig verklaar. Die twee partye gaan mekaar nou in die hof pak en hy eis A$5 miljoen se skadevergoeding van RA in ’n saak wat hy as ’n “stryd vir godsdiensvryheid” beskou.

“Ons het die kwessie as ’n groep by Sarries hanteer en ek het die groep self toegespreek,” sê Vunipola.

“Almal weet waar ek staan, maar die punt wat ons met die vergadering bereik het is dat dit onregverdig was om my klub en spanmaats daarby te betrek.

“Wat ek ook al sê sal die nuus haal en my spanmaats beïnvloed so, vir my, is dit beter om niks daaroor te sê nie.

“As ek ’n bokser was, sou ek graag hier sit en julle vertel hoe ek voel, wat ek dink, waar ek staan. Maar ek is deel van ’n span en dit sou onregverdig wees teenoor my spanmaats om dit nou te doen.”

Dit is my las en ek sal dit dra. Maar dit is ook ’n kwessie wat baie vir my beteken en ek weet hoe baie ander mense dit ook na aan die hart dra.

Joe Marler en James Haskell tel onder Vunipola se huidige en voormalige nasionale spanmaats wat krities was oor sy steun vir Folau, maar die agtsteman is vol vertroue daar sal geen verdeeldheid in Eddie Jones se kamp heers nie.

Haskell het uitgetree, maar Marler is een van 40 spelers wat tans saam met die Engelse afrigter in Bristol oefen vir die toernooi wat in September in Japan afskop.

“Hask het my troue bygewoon,” sê Vunipola. “Dié dinge is daar om gedebatteer te word.

“Ek en Marler het nog nie daaroor gesels nie, maar ons gaan vergader en kyk waar dit ons kry.

“Dit is my las en ek sal dit dra. Maar dit is ook ’n kwessie wat baie vir my beteken en ek weet hoe baie ander mense dit ook na aan die hart dra.”

– Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.