Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bioborrel ‘sal opmaak vir verlore toets’
Gaan die Mbombela-stadion een van Suid-Afrikaanse rugby se sogenaamde bioborrels wees? Foto: Gallo Images

Die gasheerreg om ’n bioborrel van Suid-Afrikaanse rugby in Mbombela aan te bied, sal tot ’n mate vergoed vir die verlore All Black-toets, sê George Stainton, die Pumas se kommersiële hoof.

Dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) die gesogte toets teen die Kiwi’s aan die Pumas toegeken het, wys onomwonde daar is vertroue in dié unie se vermoëns, is die beskouing in Laeveldse rugbykringe.

Mbombela (Nelspruit), waar die Pumas gesetel is, is glo in die binnebaan om die gasheer vir een van Saru se beplande bioborrels te wees.

Sou die land se rugbybase wel binnekort besluit om die spel in twee bioborrels te hervat, is die kans groot dat die Pumas, Cheetahs, Griekwas en die Kings mekaar van volgende maand af in die Mbombela-stadion in ’n stryd om die Curriebeker sal aandurf.

Stainton sê die Pumas het aan die einde van Junie ’n omvattende voorlegging aan Saru gedoen waarin uiteengesit word hoe al agt rugbyfranchises in ’n bioborrel in dié stad kan speel.

Volgens die voorlegging sal ’n wedstryd die Vrydagaand gespeel word, twee op ’n Saterdag en ’n vierde wedstryd die Sondag.

Die Mbombela-munisipaliteit het – en veral in vergelyking met metro’s soos Kaapstad, Johannesburg en eThekwini (Durban) – sover ’n lae Covid-19-infeksiekoers en sy lughawe is ten volle in bedryf.

“Ons het die infrastruktuur en hier is genoeg oefenvelde en geriewe.

“Buiten die verblyf in Mbombela, is daar ook ander moontlikhede soos die Ingwenyama-oord in Witrivier.

“In ons voorlegging het ons bevestig ons kan agt spanne huisves.

“Ek kan my nie uitlaat oor wat (deur Saru) beoog word nie, maar ’n bioborrel met vier spanne is, nodeloos om te sê, meer as haalbaar.”

Stainton sê ook uit ’n kommersiële oogpunt is dit moontlik om al vier spanne “tuis te laat speel”.

“As dit byvoorbeeld die Cheetahs se tuiswedstryd is, sal Toyota bemarking kry in die stadion en as die Pumas speel, sal dieselfde Phakisa geld,” sê Stainton.

Die Pumas Rugbyunie sou op 26 September vir die eerste keer in die geskiedenis ’n toets tussen die Springbokke en die All Blacks in Mbombela aangebied het, maar die koronavirus-pandemie het dit laat skipbreuk ly.

Die plan is nou dat die hele Rugbykampioenskap in November en Desember in Nieu-Seeland aangebied word.

Presies hoe en wie vir die duur bioborrels sal betaal, is glo ’n netelige kwessie in Suid-Afrikaanse rugby.

Rapport het verlede week berig verskeie spanne in die Premierliga van die Curriebeker-kompetisie het bevestig hulle het nie begroot om in ’n bioborrel te speel nie.

Boonop is daar kommer oor die impak wat ’n lang bioborrel-tydperk op die geestelike welstand van spelers kan hê.

Saru kan dalk reeds volgende week ’n aankondiging oor die plaaslike seisoen doen.

Meer oor:  Mbombela  |  Sa Rugby  |  Bioborrel  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.