Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bismarck, Frans ís beseer, verseker Rassie
Frans Steyn probeer die bal bemeester in ’n Europese Uitdaagbeker-wedstryd tussen Montpellier en Glasgow. Foto: Getty Images

Daar was niks verdag aan die besluit om Frans Steyn en Bismarck du Plessis nie meer by die Springbokke se reeks van drie toetse teen Engeland te betrek nie.

Trouens, albei dié spelers wou bitter graag vir die Bokke speel, maar ligte skete, waarvan die omvang nog onduidelik is, het ’n stokkie voor dié planne gesteek.

Rassie Erasmus, die Bok-breier, het Donderdag dié versekering gegee nadat ’n aankondiging dat Du Plessis en Steyn hulle weens beserings aan die groep moes onttrek, Woensdag skepties begroet is.

Die feit dat hulle albei ongeskonde deur die Franse Top14-eindstryd teen Castres gekom het, het twyfel laat ontstaan oor die ware rede vir hul onttrekking.

Hulle sukkel met klein skete en moet verdere skanderings ondergaan voordat die volledige uitslae bekendgemaak kan word.
Rassie Erasmus

Dít, asook die geskiedenis van Franse klubs wat onwillig is om hul spelers vir internasionale diens vry te stel, was die vernaamste redes waarom waarnemers dié aankondiging met ’n mate van agterdog bejeën het.

“Hulle sukkel met klein skete en moet verdere skanderings ondergaan voordat die volledige uitslae bekendgemaak kan word,” het Erasmus Donderdag in Johannesburg gesê.

“Ons wou hulle inbring sodat hul ervaring na die jong spelers kan oorspoel. Met die Wêreldbeker-toernooi wat voorlê, wou ons ook sien hoe lyk hulle wat hul fiksheid betref.

“Maar met die tyd wat dit nou neem vir hulle om mediese goedkeuring te kry om hierheen te kom, is dit nie meer die moeite werd nie. Hulle sou eers volgende week kon kom en dan is ons al besig om vir die tweede toets voor te berei. Ek beloon liewer die ouens wat hier is.

“Dit het ongelukkig nou te lank geneem vir hulle om oor te kom en daar is nie duidelikheid wat hul beserings betref nie, so ons gaan liewer voort sonder hulle.”

Bismark du Plessis wil ’n lynstaan voer in ’n Top14-wedstryd vir Montpellier. Foto: Getty Images

Erasmus hou vol hulle is werklik beseer.

“Ek het self kontak gemaak met die twee spelers en hulle het beslis beserings. Hulle word deur Montpellier betaal en dié klub wil verseker hulle is heeltemal fiks voordat hul nuwe seisoen begin. Ek het geen twyfel wat die spelers se toewyding betref nie.

“Hulle is baie gretig om vir die Bokke te speel. Dit was die groot ding wat vir my belangrik was toe ek van die oorsese spelers vroeër gaan sien het. Die ouens wat gesê het hulle is nie seker of hulle vir die Bokke wil speel nie, is nie weer genader nie.

“Bismarck en Frans was twee van die ouens wat desperaat was om weer vir die Bokke te speel.”

Dis onwaarskynlik dat daar plaasvervangers vir Du Plessis en Steyn ontbied gaan word.

Meer oor:  Frans Steyn  |  Rassie Erasmus  |  Bismarck Du Plessis  |  Frankryk  |  Montpellier  |  Springbokke  |  Beseer  |  Haker  |  Senter  |  Klubrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.