Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blaser hét gefouteer, sê Ikeys

Die Ikeys glo hulle is ’n onreg aangedoen in Maandagaand se Varsitybeker-rugbywedstryd teen die Maties in Stellenbosch, maar het besluit om voor hul eie deur te vee eerder as om daaroor te sanik.

Aimee Barrett-Theron, die skeidsregter in dié kragmeting, het tot groot ontsteltenis van die Ikeys die eindfluitjie geblaas toe die bal aangeslaan is nadat hulle voordeel vir ’n strafskop gehad het binne gemaklike trefafstand van die Maties se pale. Op daardie tydstip was die telling 8-7 in die guns van die Maties.

Aimee Barrett-Theron in aksie in ’n o.18-wedstryd tussen Engeland en Frankryk. Haar besluit om nie ’n strafskop aan die Ikeys toe te ken in Maandagaand se Varsitybeker-stryd teen die Maties nie, kan verreikende gevolge hê in die reeks se puntelys voor die uitspeelrondes. Foto: Gallo Images

Tom Dawson-Squibb, die Ikeys se afrigter, meen daar was geen rede vir die blaser om te beslis dat die voordeel verby was nie, want hulle het agteruit geboer eerder as om veldgebied te wen of in ’n sterker posisie te kom.

Die Ikeys kon natuurlik ook doelbewus die bal aangeslaan het sodat hulle pale toe kon korrel, so dis deels ook hul eie skuld dat die geleentheid nie aangegryp is nie.

“Volgens die reël moes ons ’n strafskop gekry het. Ons skrumskakel het gevoel dis nie binne die gees van die spel om die bal doelbewus aan te slaan nie, wat ek nogal amusant vind. Met nabetragting moes ons dalk net gesê het ons sal die strafskop neem,” sê Dawson-Squibb.

“Ons het egter ná die voordeel nie ’n meter vorentoe gegaan nie, so ons meen dit moes ’n strafskop gewees het. Of ons dit sou oorskop, sal ons nooit weet nie.”

Hy sê dat die Ikeys die wedstryd kon gewen het as hulle meer akkuraat met hul lynstaanspel en op die aanval was. Hulle het in die tweede helfte byna van begin tot einde oorheers, maar slegs Kyle Bowman se drie gehad om te wys vir al dié harde werk.

In die lynstane veral het dit met die besoekers beroerd gegaan en hulle het dit herhaaldelik as aanvallende opsie gebruik wanneer dit duidelik nie gewerk het nie.

Veral Ben-Jason Dixon, die Maties se nr.5-slot en kaptein, het die Ikeys dáár opgekeil.

“Dit was ’n wedstryd waar die verdediging weerskante toe beter as die aanvallende spel was,” sê Dawson-Squibb.

“Die Maties het ons by die lynstane ore aangesit. BJ Dixon is ’n baie vaardige speler. Hy’s hul talisman in die lynstane en in die Stormers se groep (vir die Superreeks).”

Vir Dawson-Squibb is die ligpunt uit dié stryd dat die Ikeys ’n “strafdoel daarvan weg was om die sterkste span in die reeks te klop”.

“Ons het vooraf geglo dat ons kan wen en ek dink dit het gewys. Ons akkuraatheid by die lynstane en op die aanval het net op kritieke tye ontbreek. Dít, tesame met goeie verdediging deur die Maties, het ons waarskynlik die wedstryd gekos.”

Dawson-Squibb vertrou dat sy span hul hartverskeurende nederlaag as motivering sal gebruik eerder as dat dit die wind uit hul seile sal haal.

“Die uitspeelrondes is binne ons bereik. Dis ’n yslike geelwortel en ons moet opgewonde daaroor wees dat ons met een punt verloor het teen die sterkste span in die reeks eerder as om oor die nederlaag te tob,” sê hy.

“Jy kan die frustrasie van die nederlaag ook gebruik om jou te motiveer. ’n Bietjie woede het niemand al seergemaak nie.”

Hy het ook sy agting vir Barrett-Theron uitgespreek.

“Sy behartig wedstryde in die Sesnasies-reeks vir vroue en is ’n goeie skeidsregter. Ek kom baie goed oor die weg met haar. Sy’s ’n lieflike mens en ’n hoogs bekwame skeidsregter. Ek stem nie saam met haar beslissing nie, maar dis maar hoe dit is,” sê Dawson-Squibb.

Meer oor:  Aimee Barrett-Theron  |  Maties  |  Ikeys  |  Varsitybeker  |  Skeidsregter  |  Blaser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.