Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blaser Lacey steel byna All Blacks se glorie

Die Reeks van Omstrede Skeidsregter-beslissings, soos die drie toetse tussen Nieu-Seeland en Frankryk onthou kan word, het Saterdag met ’n gemaklike, welverdiende sege van 49-14 vir die All Blacks in Dunedin geëindig.

Reiko Ioane het Saterdag ’n driekuns All Blacks behaal. Foto: Getty Images

Nieu-Seeland wen die reeks met 3-0, maar hoe wedstrydbeamptes die teenstanders van die All Blacks hanteer, sal ná dese stewig onder die loep geneem moet word.

In die eerste toets het ’n geelkaart vir Frankryk die wedstryd van sy mededingendheid beroof, terwyl ’n uiters gevaarlike duikslag op ’n Fransman Remy Grosso, wat tot skedelbreuk vir Grosso gelei het, nié met ’n kaart gestraf is nie. In die tweede toets was die Hane vroeg tot 14 spelers gedoem, nadat die heelagter, Benjamin Fall, ’n rooikaart gekry het nadat Beauden Barrett sleg geval het ná ’n stryd om ’n hoë bal. Dié rooikaart is later van Fall se dissiplinêre rekord geskrap.

Saterdag was dit nie ’n kaart waaroor die Franse die reg het om kwaad te voel nie.

Die skeidsregter, John Lacey, het vir die All Blacks ’n drie op ’n skinkbord gegee – hy was letterlik die direkte oorsaak van Nieu-Seeland se derde drie.

Met die telling op 14-elk ná sowat ’n halfuur se spel, het die All Blacks ’n skrum reg in die skaduwee van die besoekers se doelpale gehad. Die bal het vinnig uit die skrum gekom en Aaron Smith het na Damian McKenzie laat loop. Dié blondekop-losskakel sou sy geluk nie kon glo toe die verdediging soos die Rooi See voor hom oopgemaak het nie. Hy het deurgedraf en onder die pale gaan druk.

Die rede vir dié gaping was dat Lacey die Franse skrumskakel, Baptiste Serin, liederlik geblok het sodat Serin nie vir McKenzie kon duik nie. Serin kon nie beweeg nie, want die skeidsregter was soos ’n muur in sy pad.

Lacey het die beslissing verwys, maar nie eens gewag om die TV-skeidsregter, George Ayoub, se beslissing te hoor nie. Hy het die drie toegeken. Frankryk kan met reg baie te nagekom voel.

Dit moet wel duidelik gestel word dat dié beslissing nie die rede vir die Kiwi’s se oorwinning was nie. Hulle het eenvoudig te veel skietgoed vir dié begeesterde Franse gehad. Dié skeidsregter-beslissing moet wel uitgelig word, omdat dit nou vir drie agtereenvolgende weke voorgekom het of die All Blacks met ’n ander maatband as ander spanne gemeet word.

Nieu-Seeland se verdediging moet ’n pluimpie kry. Die Hane het die tempo van meet af aan blitsvinnig gemaak met verskeie aangeë in kontaksituasies. Hoewel die besoekers wel ’n paar keer deurgebreek het, was dit sonder uitsondering ná bloedsweet, trane en Job se geduld.

Frankryk sou teen rustyd nog voel hy het ’n kans toe Nieu-Seeland met slegs 21-14 voor gaan rus het ná die omstrede drie. Ná die omdraaislag was daar egter net een span op die veld en die All Blacks het met ongelooflike vinnige hardlooprugby vorendag gekom. Soos net hulle kan.

Die Kiwi’s is net té gevaarlik in die wye kanale en vir hulle was dit baie makliker om bresse te slaan as vir hul teenstanders. Die Hane se lynstane was ook ’n groot probleem.

Die All Black-flank Shannon Frizell is ’n drie in sy debuut ontneem toe die TV-skeidsregter, Ayoub, Lacey aanbeveel het om sy beslissing om te keer nadat Ayoub bevind het ’n Fransman se arm was onder die bal. Lacey het nie ’n probleem gehad om die drie toe te ken nie.

Oomblikke later het die vleuel Rieko Ioane egter sy driekuns aan drieë voltooi. Net soos wat Frizell se drie eintlik tóg toegeken kon word, kon Ioane gelukkig voel dat sy drie wel getel het. Dit wou blyk of daar ’n aanslaan was in die aanloop tot sy derde.

Vir Nieu-Seeland het McKenzie ’n bevredigende toets beleef en twee drieë gedruk.

Die Hane se kwiksilwer senter Wesley Fofana het sy gehalte onderstreep.

* Puntemakers:

Nieu-Seeland 49 (21): Drieë: Ben Smith, Matt Todd, Damian McKenzie (2), Rieko Ioane (3). Doelskoppe: McKenzie (7).

Frankryk 14 (14): Drieë: Baptiste Serin, Wesley Fofana. Doelskoppe: Anthony Belleau (2).

Meer oor:  Toetsrugby  |  Hane  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.