Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blikkies help Bulle se nuwe breier kies

Die besluit oor die Bulle se nuwe afrigter sal ’n deursigtige een wees.

Dit sal nie soos in die verlede ’n raadsaal-besluit agter geslote deure wees nie, verseker Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU).

Blikkies Groenewald (regs) ’n klompie jare terug toe Tuks die Carltonbeker verower het. Foto: Argief

Die Bulle se soektog vir ’n opvolger vir John Mitchell, wat verlede week sak en pak Engeland toe is, het in alle erns begin.

Voorbereiding vir volgende jaar se Superrugby-veldtog is veronderstel om oor net meer as ’n maand te begin.

Strauss sê ’n advieskomitee word aangestel om ’n aanbeveling aan die direksie te maak.

Blikkies Groenewald, voorsitter van die Blou Bulle se afrigtersvereniging, is die voorsitter van die komitee, terwyl Barend van Graan, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), ook daarin dien.

Groenewald was voorheen die Bulle se agterlynbreier in die Superreeks en was ook in 2016 en 2017 hoofafrigter van Pole se nasionale span. Hy was ’n dekade of wat terug ook afrigter van Rusland se nasionale span.

“Ons gaan ook twee of drie voormalige hoëprofiel-afrigters vra om onafhanklik deel te wees van die proses.

“Die komitee sal dan ’n aanbeveling aan die direksie maak, nie net oor die hoofafrigter nie, maar oor die Bulle se afrigtingsktrukture in die geheel.

“Die idee agter die advieskomitee is om toe te sien dat dit ’n deursigtige proses is en die groter prentjie in ag geneem word,” sê Strauss.

Hy benadruk dat dit ’n “kritieke tyd” by Loftus Versfeld is.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie. Foto: Gallo Images

Die Bulle is ook midde-in ’n proses om ’n opvolger vir Van Graan, wat in Januarie 2019 aftree, aan te stel.

“Dit is ’n belangrike tyd en ons moet raakvat (met goeie aanstellings). Ons besef daar gaan net een kans wees.

“Die groot behoefte is om die aanstellings te maak en standvastigheid te kry.”

Die name van Jimmy Stonehouse, die Pumas se direkteur van rugby, en Victor Matfield, voormalige Springbok-slot van die Bulle, doen steeds die rondte as moontlike opvolgers vir Mitchell.

Die ervare Pote Human is die Ligbloues se hoofafrigter in die Curriebeker-kompetisie.

* Daar is Dinsdag in Sandton onderhoude gevoer met van die kandidate wat ’n kortlys gehaal het vir Van Graan se pos.

Strauss sê hy kan nie veel uitwei oor die proses nie.

“Daar is nog geen besluit geneem nie. Ek is wel tevrede met die voorleggings wat ons gesien het. Verskeie sterk kandidate het aansoek gedoen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.