Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitse, Bokke straks saam na Kiwi-land

Die Blitsbokke kan later vanjaar saam met die Springbokke op ’n vliegtuig klim wanneer laasgenoemde span na Nieu-Seeland vertrek om aan die Rugbykampioenskap deel te neem.

Die Suid-Afrikaanse sewesspan gaan dalk wel nog vanjaar in aksie wees. Hier sit die Blitsbok Kurt-Lee Arendse af op ’n lopie in die Kaapstad-sewestoernooi in 2019. Foto: Gallo Images

Daar word gehoop dat dié reeks, wat Australië en Argentinië ook insluit, in November en Desember in die land van die Silwervaring gehou kan word.

Met dié dat Wêreldrugby verlede week aangekondig het dat die eerste twee sewestoernooie van die nuwe seisoen, in Dubai en Kaapstad, gekanselleer word, is spanne oor die wêreld heen naarstiglik besig om alternatiewe reëlings te tref.

Een daarvan, word verneem, is dat die sewesspanne van die lande wie se spanne aan die Rugbykampioenskap deelneem, terselfdertyd in ’n sewestoernooi daar in aksie kan wees. Daar kan selfs besluit word om Suidsee-spanne soos Fidji en Samoa ook by so ’n toernooi in te sluit.

Dit beteken dat die wêreld se voorste sewesspanne in Kiwi-land teen mekaar te staan kan kom – wat goeie voorbereiding vir die nuwe seisoen sal wees.

Die verwagting is dat die nuwe seisoen van Wêreldrugby se sewesreeks in Januarie in die einste Nieu-Seeland gaan begin.

Die Blitsbokke in die Kaapstad-toernooi in 2019. Foto: Gallo Images

Sedert die meeste van die landsgrense in die wêreld in Maart weens die koronavirus-pandemie gesluit is, het sewesrugby in werklikheid tot stilstand gekom, met spelers wat op hul eie tuis geoefen het.

Internasionale sewesspanne neem gewoonlik in die voorseisoen, voordat die eerste toernooi van Wêreldrugby se sewesreeks in November of Desember in Dubai begin, aan ’n toernooi soos die Oktoberfest-toernooi in München, Duitsland, deel. Maar weens die virus het dié toernooi ook reeds vroeër in die slag gebly.

Sulke toernooie gee afrigters die geleentheid om spelers in ’n wedstrydsituasie te toets en kombinasies op die proef te stel. Ná die lang afwesigheid van die speelveld af kan ’n toernooi soos die beoogde een in Nieu-Seeland van groot waarde vir die wêreld se voorste sewesspanne wees.

Hoewel daar tans slegs twee aktiewe Covid-19-gevalle in Nieu-Seeland is, sal daar waarskynlik steeds later vanjaar streng maatreëls, soos kwarantyn, in plek wees vir diegene wat dié land wil binnekom.

Daar word verneem dat die Europese lande se sewesspanne ook later vanjaar teen mekaar te staan kan kom. Verlede week is aangekondig dat die vyftienman-spanne wat aan die Sesnasies-reeks deelneem, later vanjaar saam met Fidji en Japan aan ’n reeks gaan deelneem. Die sewesspanne van al dié lande, met die uitsondering van Italië, is deel van Wêreldrugby se sewesreeks.

Dit beteken dat Fidji se sewesspan ook saam met sy land se vyftienman-span na Europa kan reis om teen spanne soos Engeland en Ierland te speel.

Die beoogde sewestoernooi in die Suidelike Halfrond sal beslis rugby van hoë gehalte oplewer. Nieu-Seeland het die reeks in die afgelope seisoen gewen, gevolg deur Suid-Afrika, Fidji en Australië in die vierde plek.

• Die Blitsbokke trek weer volgende week in Stellenbosch saam.

Meer oor:  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wêreldrugby  |  Blitsbokke  |  Nieu-Seeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.