Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blits of Bok? Virus laat Kwagga dink

Die Springbokflank Kwagga Smith het baie dinge om aan te dink wat sy rugbytoekoms betref.

Kwagga Smith in aksie by verlede jaar se WB-toernooi in Japan.Foto: Getty Images

“Daar hang soveel dinge in die lug en daar is soveel onsekerheid,” het Smith Dinsdag vanaf hul plaas in die Lydenburg-distrik gesê.

Aan die een kant was hy een van die gelukkiges wat sonder probleme uit Japan kon terugkeer na Suid-Afrika. Maar die impak van die koronavirus laat hom steeds met ’n kop vol vrae.

“Ek kan in hierdie stadium geen besluite neem nie. Ek sal maar moet wag om te sien hoe dinge gaan as hierdie virus-pandemie iets van die verlede is,” het hy gesê toe hy uitgevra is oor sy toekomsplanne.

“Alles hang op die oomblik so in die lug dat ek nie eens iets wil sê daaroor nie. As alles eers verby is sal ek maar gaan sit, my situasie opsom en dan ’n besluit neem,” sê Smith.

Een van die dinge waaroor Smith moet sit en dink is of hy in die winter van 2021 eerder ’n Blitsbok- of ’n Springbok-trui wil dra.

Met die Olimpiese Spele wat tot aanstaande jaar uitgestel is, sal dit nou regstreeks bots met die Britse en Ierse Leeus-toer na Suid-Afrika. Die Spele is geskeduleer vir 23 Julie tot 8 Augustus, terwyl die Leeus se drie toetswedstryde teen die Springbokke op 24 Julie, 31 Julie en 7 Augustus moet plaasvind.

Smith tel saam met onder andere Cheslin Kolbe onder die groepie Suid-Afrikaanse spelers wat sou gehoop het om albei geleenthede mee te maak, maar wat nou moet kies. Albei was in 2016 in Rio de Janeiro, waar hulle Olimpiese brons gewen het. Vanselfsprekend het nie een van hulle al die Britse Leeus aangedurf nie, aangesien hulle onderskeidelik 16 en 15 jaar oud was toe dié span laas in Suid-Afrika was.

Nog iets waaroor Smith in die duister is, is waar hy sy rugby gaan speel wanneer hy later vanjaar terugkeer na Suid-Afrika om sy rugbyloopbaan hier voort te sit.


Sy kontrak met die Leeus het verval en daar is sprake dat hy in die Haaie se visier is om vir hulle te speel. Die Leeus het intussen aangedui dat hulle ook weer aan hom ’n aanbod sal maak om steeds ’n Rooibonte te bly.

“Ek kan nou niks daaroor sê nie. Dit sal ook alles onderhewig wees aan hoe die hele storie met die virus hom uitspeel,” sê hy.

Die 26-jarige Smith, wat reeds ses keer vir die Springbokke uitgedraf het en ’n gereelde lid was van die Blitsbokke, speel sy rugby vir Yamaha Jubilo in Japan.

Hy vertel dat hul afrigter daar hulle sowat twee weke gelede goed ingelig het oor die situasie rondom die inperking met die virus.

“My vrou kon toe die Vrydagaand (20 Maart) reeds huis toe vlieg en ek was gelukkig genoeg om die Sondag (22 Maart) ’n vlug uit Tokio via Dubai na Johannesburg te kry. Van die ander ouens soos Duane Vermeulen kon die dag daarna (Maandag) nie op ’n vlug kom nie en moes etlike dae wag voordat hulle uit Japan kon kom. Daar is selfs van die ander ouens wat steeds daar is.

“Daar is sprake dat die spanne dalk binnekort weer bymekaar kan kom, maar ons wag nog om sekerheid te kry. Niemand weet regtig presies wat die toekoms inhou nie.”


“Wat die virus betref, is dinge in Japan goed beheer,” sê hy. “Ons is daar op die platteland en is dus nie so kwaai geraak soos diegene in die stede soos Tokio nie. Die higiëne daar is ook baie goed. Dit is ’n skoon land waar die effek van die virus nie so erg is nie.

“Ek is tog bly om weer hier in Suid-Afrika te wees. Dit is lekker rustig op die plaas en ons het genoeg ruimte om in te beweeg. Ons doen sekere take hier en met my vrou wat ook baie aktief en sportief is, oefen ons saam,” sê hy.

Een van die ongelukkigste hoofstukke in Smith se loopbaan, was die rooikaart waarmee hy in die eindstryd van 2017 se Superreeks gestraf is omdat hy ’n Crusader in die lug geloop het. Enkele weke gelede was daar ’n soortgelyke voorval in Durban, toe die Stormers se Johan du Toit onder die Haaie-skrumskakel, Louis Schreuder, ingehardloop het.

Du Toit het slegs geel gesien daarvoor, al word dit wyd en syd bestempel as erger as destyds se Smith-voorval op Ellispark.

“Ag wat, dit is maar hoe die dinge gebeur,” antwoord Smith ’n vraag oor die Durban-voorval. “[My destydse rooikaart] is vir my water onder die brug. Ek dink nie ek is onnodig gestraf of ’n ander speler was gelukkig om weg te kom (met iets soortgelyk) nie. Dit is nou maar hoe dinge gebeur,” sê Smith.

Meer oor:  Koronavirus  |  Kwagga Smith  |  Bokke  |  Sewes  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Superrugby  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.