Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Powell gaan Haaie se aanval tande gee

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, kan hom by die Haaie se afrigtingspan aansluit.

Neil Powell
Neil Powell . . . op pad na die Haaie? Foto: Gallo Images

Rapport kan vandag bevestig dat gesprekke “ver gevorderd is” om Powell as die Haaie se nuwe aanvalsafrigter aan te stel. As Powell en die Haaie ’n ooreenkoms bereik, sal die Blitsbok-breier hom ná volgende jaar se Wêreldbeker vir sewes, wat in Kaapstad sal plaasvind, in Durban vestig.

Die Wêreldbeker-toernooi sal dan Powell se vaarwel wees aan die verkorte weergawe van die spel, waar hy ongelooflike sukses met die Springbokke se sewesspan behaal het.

Vir Powell sal vanjaar se Olimpiese Spele, en volgende jaar se Wêreldbeker vir sewes, die perfekte geleentheid wees om totsiens aan sewesrugby te sê voordat hy sy stempel begin afdruk in vyftienmanrugby.

Powell se kontrak met die Springbok-sewesspan verstryk volgende jaar ná die Wêreldbeker en volgens ingeligtes is hy gretig om dan die skuif te maak. Hy is glo al “maande” lank in gesprekke met die Haaie om Durban toe te trek.

Die onlangse aanstelling van die oud-Blitsbok Sandile Ngcobo as die nuwe afrigter van die Akademie-sewespan, is blykbaar die eerste stap in die opvolgbeplanning van SA Rugby om die oorgang na ’n nuwe afrigtingspan by die Blitse so pynloos as moontlik te maak.

Ngcobo het ook die direkteur van die Sewes­akademie, Marius Schoeman, asook Powell se assistentafrigter, Renfred Dazel, waarop hy kan staatmaak indien nodig.

Die Haaie se aanvalsafrigter, David Williams, is in Junie op pad terug na Bath en die naam van die huidige Griekwas-afrigter, Scott Mathie, is eers vir die pos genoem. Dit blyk egter dat dit vir Mathie te moeilik gaan wees om uit sy huidige kontrak met Griekwas te kom.

Die Haaie se belangstelling in Powell en aktiewe werwing van die Blitsbok-breier wys die visie wat daar by die franchise is om saam met sy Amerikaanse beleggingsindikaat MVM Holdings toekomstige sukses te verseker.

Powell is in 2013 as Blitsbokafrigter aangestel en het die Blitsbokke na twee agtereenvolgende Wêreldtitels in die 2016-’17- en 2017-’18-reeks gelei. Die Blitsbokke was ook vier keer onder sy leiding – insluitend die verkorte 2019-’20-seisoen wat deur die Covid-19 pandemie geraak is – tweede in die Wêreldreeks.

Powell het ook die Blitsbokke na ’n bronsmedalje by die Olimpiese Spele in 2016 in Rio gelei en is in 2018 as SA Rugby en die Wêreldsewesreeks se Afrigter van die Jaar aangewys.

Onder Powell het die Blitsbokke ook ’n goue medalje by die Statebondspele gewen. Hy is die enigste afrigter nog wat by albei spele goud in sewesrugby verower het.

Die Haaie se uitvoerende hoof, Eduard Coetzee, wou nie kommentaar oor samesprekings lewer nie, terwyl Powell en SA Rugby Rapport albei na die Haaie verwys het.

Meer oor:  Neil Powell  |  Blitsbokke  |  Afrigter  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.