Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitsbok-breier hou snoeiskêr weg

Ten spyte van die Blitsbokke se onoortuigende vertoning verlede week in Doebai, het dié span se breier, Neil Powell, die versoeking weerstaan om die snoeiskêr in te lê en het hy ’n onveranderde groep aangekondig vir die naweek se toernooi in Kaapstad.

Justin Geduld, wat verlede naweek ’n besering in die groepwedstryd teen Samoa opgedoen het, is fiks verklaar, wat beteken dat Selvyn Davids weer die plaasvervangersbank sal warm hou.

Justin Geduld is fiks verklaar vir die naweek se toernooi in Kaapstad. Foto: Getty Images

Daar was ook nie vir die ervare Chris Dry plek in Powell se 12-tal nie. Dry, wat die afgelope week saam met die Blitsbokke geoefen het, het lank met ’n kniebesering gesukkel en verlede naweek vir die akademiespan in die Doebai gespeel.

Met 64 toernooie in die Wêreldreeks op sy kerfstok, sou hy beslis waarde tot die span kon voeg.

Powell sê egter dat hy nie graag veranderinge maak wanneer toernooie kort ná mekaar volg nie.

“Ek dink dit is net regverdig as daar geen beserings is om weer dieselfde spelers te kies. Daar is een of twee ouens wat dalk nie op hul beste was nie, maar dit maak nie skielik van hulle slegte rugbyspelers nie. Die lekker ding is hulle het hierdie naweek die geleentheid om sake reg te stel,” sê Powell.

Selvyn Davids gaan die naweek in die Moederstad die Blitsbokke se plaasvervangersbank moet warm hou. Foto: Gallo Images

Volgens dié breier wil hy ook nie spelers se selfvertroue ’n knou gee deur hulle ná slegs een toernooi die trekpas te gee nie.

Dit is egter goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse sewesspan dat Geduld reg is, aangesien hy in Dubai as spelskepper beïndruk het voordat sy toernooi kortgeknip is.

Die Blitsbokke het Donderdagoggend ’n oefensessie by Bishops gehad waar Geduld, wat met ’n stut aan sy linkerknie geoefen het, op die oog af sonder enige ongemak geoefen het.

Waar die spelers voor die oefensessie in ’n gemoedelike luim was en grappies met mekaar gemaak het, het dié luim gou verander toe die sessie van sowat een en ’n half uur begin het.

Geen genade is in die oefensessie betoon nie, soos ’n duikslag, wat Werner Kok op ’n spanmaat uitgevoer het, van getuig het. Toe Branco du Preez ’n beweging afgerond het en gaan “druk” het, is hy luidkeels deur die kinders wat langs die veld gestaan het om hul helde in aksie te sien, toegejuig.

Ná die oefening het Powell baie aandag aan die voorspelers gegee, met verskeie skrums en lynstane wat geoefen is. Rosko Specman het aanvanklik gesukkel om sy springers in die lynstane te vind, maar later het dit klopdisselboom verloop.

Suid-Afrika se kapteinsoefening is Vrydagoggend.

Blitsbokke
Philip Snyman (k), Ryan Oosthuizen, Zain Davids, Werner Kok, Kyle Brown, Branco du Preez, Rosko Specman, Justin Geduld, Dewald Human, Siviwe Soyizwapi, Muller du Plessis, Impi Visser. Reserwe: Selvyn Davids.

Meer oor:  Justin Geduld  |  Sewes  |  Neil Powell  |  Blitsbokke  |  Kaapstad-Sewes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.