Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Christie was rakker met rugbybal

As sesjarige was die Blitsbok Christie Grobbelaar gedurig in die moeilikheid omdat hy met ’n rugbybal in die klas gespeel het.

Christie Grobbelaar in aksie vir die Westelike Provinsie tydens 2019 se nasionale reeks vir o.19-spanne. Foto: Gallo Images

Hierdie naweek kry dié 19-jarige, wat hom vroeër vanjaar by die Suid-Afrikaanse sewesakademie aangesluit het, sy groot kans om sy geesdrif vir die spel op ’n hoër vlak uit te leef wanneer die Blitsbokke in Nairobi aan Kenia se sewestoernooi deelneem.

Die toernooi is deel van die Blitsbokke se voorbereiding vir die Wêreldreeks, wat in Desember in Doebai begin.

“My liefde vir rugby was al daar vandat ek ’n klein seuntjie was. In graad R het ek altyd in die moeilikheid gekom omdat ek en ’n vriend met ’n rugbybal in die klas gespeel en pouses die ander kinders te rof geduik het,” sê Grobbelaar.

Hy het in 2018 aan die Hoër Tegniese Skool Drostdy in Worcester gematrikuleer en die Boland twee jaar agtereenvolgens by die Cravenweek-toernooi vir o.18-spanne verteenwoordig.

In graad R het ek altyd in die moeilikheid gekom omdat ek en ’n vriend met ’n rugbybal in die klas gespeel en pouses die ander kinders te rof geduik het.
Christie Grobbelaar

Maar sy vaardighede in die korter weergawe van die spel is reeds op skolevlak raakgesien.

“Op skool het ek net vyftienman-rugby gespeel tot met graad 10. In graad 10 en graad 11 het ek die eerste keer in provinsiale sewestoernooie gespeel en dít is waar Marius (Schoeman, hoëprestasiebestuurder van sewesrugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie) my raakgesien het,” sê Grobbelaar.

Dié belowende jongeling het ook die SA o.18-sewesspan in 2018 by die Olimpiese Jeugspele in Argentinië verteenwoordig.

En hoewel hy in vyftienmanrugby as senter diens gedoen het, is hy ’n voorspeler in sewes. Dit was juis aan die voete van legendes van Suid-Afrikaanse sewesrugby wat hy vanjaar die fyner kunsies van die spel aangeleer het.

“Philip Snyman, Kyle Brown (wat albei sedertdien uitgetree het) en Chris Dry was my helde toe ek jonger was. Hulle was sterk leiers en ek het altyd opgekyk na hulle.

“Hulle speel ook dieselfde posisie as wat ek speel. Ek het baie by hulle geleer in die vorige seisoen. Hulle wou altyd net help, sodat ek my spel kan verbeter en was gretig om hul kennis en ervaring met my te deel,” sê Grobbelaar, wat ook vanjaar vir die Westelike Provinsie se o.19-span vyftienman-rugby gespeel het.

Hy draai nie doekies om oor sy droom om eendag vir die Blitsbokke by die Olimpiese Spele uit te draf nie. En as jy so na kenners luister, kan Grobbelaar reeds hierdie seisoen sy plek in die Blitsbokke se span vestig in Wêreldrugby se sewesreeks.

“Ek is baie opgewonde. Dit is ’n droom wat waar geword het. Dit is regtig ’n voorreg en ’n eer om saam met die wêreld se beste sewespelers op die veld uit te draf en om hulle my spanmaats te noem.

“My mikpunt vir die komende seisoen is om in soveel toernooie (van die Wêreldreeks) te speel as wat ek kan, om sodoende stappie vir stappie waardevolle ondervinding op te doen,” sê Grobbelaar.

* Bepalings vir die Blitsbokke se groepwedstryde Saterdag: 08:50: SA t. Burundi, 11:40 SA t. Morans, 15:30 SA t. Uganda.

Meer oor:  Kenia  |  Blitsbokke  |  Sewesrugby  |  Christie Grobbelaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.