Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Horne haal span saam met Lomu, Cullen
Jonah Lomu in aksie vir Nieu-Seeland se sewesspan by die Statebondspele in 1998 in Maleisië. Foto: Getty Images

Die voormalige All Black Jonah Lomu het ’n skrikbewind op vleuel in toetsrugby gevoer, maar daar word soms vergeet dat hy net so verwoestend in sewesrugby was.

Lomu, wat in 2015 dood is, is nou deur Karl Tenana, self ’n voormalige Kiwi-sewesspeler en tans ’n rugbykommentator, in sy droomspan ingesluit. Dié span verskyn op Wêreldrugby se webtuiste.

Lomu het Nieu-Seeland in 1994 die eerste keer in sewes verteenwoordig en was later in sy loopbaan deel van die Kiwi-span wat die 2001-Wêreldbeker-sewestoernooi gewen het.

Nog ’n bekende naam op die lys van uitverkorenes is Christian Cullen, wat die All Blacks in 58 toetse tussen 1996 en 2002 in die langer weergawe van die spel verteenwoordig het. Hy het die Kiwi’s vroeg in sy loopbaan – in 1995 en 1996 – in sewes verteenwoordig.

Waisale Serevi van Fidji, ’n legende in sewes wat die eilandmanne met onderskeiding verteenwoordig en ook afgerig het, is ook in die uitsoekspan.

Frankie Horne tydens ’n kragmeting tussen die Blitsbokke en Australië in 2009 in Dubai. Foto: Getty Images

Die enigste Blitsbok onder die uitverkorenes is Frankie Horne, wat in 2016 uitgetree het. Tenana sê van Horne dat jy in hom “altyd iemand het wat na die donker plekke sal gaan”.

“Hy is vir my iemand wat rof en taai is en bereid is om die vuilwerk te doen, soos om losgemale skoon te maak en dinge soos dít, wat ander in staat stel om uit te blink.”

Horne het by navraag hieroor gelag en sê “dis lekker om te sien dat ’n mens se naam nog êrens verskyn”.

“Dit is nie regtig meer as een ou se mening nie. Karl Tenana het wel baie ervaring en hy is ’n kommentator in die Wêreldreeks, so hy weet seker waarvan hy praat. Dit is nogal lekker om in dieselfde asem as daardie name genoem te word en om in so ’n span te wees,” sê Horne.

“Dit is nogal ’n indrukwekkende span en dit sou lekker wees om saam met sulke ouens te speel en te sien watter skade hulle in die moderne spel sou kon aanrig. Daar is darem ’n paar baie groot name!”

Karl Tenana se Droomspan: Jonah Lomu (Nieu-Seeland), Eric Rush (Nieu-Seeland, kaptein), Frankie Horne (Suid-Afrika), Uale Mai (Samoa), Waisale Serevi (Fidji), Christian Cullen (Nieu-Seeland) en Santiago Gómez Cora (Argentinië).

Meer oor:  Jonah Lomu  |  Sewes  |  Frankie Horne  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.