Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitsbok Kok soek senter-trui by Haaie
Werner Kok trek ’n duiksak plat gedurende ’n Haaie-oefening in Durban. Foto: Gallo Images

Al het die koronavirus Werner Kok vir eers van ’n laaste Blitsbok-hoera beroof, is sy visier reeds op ’n ander teiken ingestel.

Kok (27), wat hom onlangs by die Haaie aangesluit het, wil homself nou in die vyftienman-kode vestig. Hy hoop om eerstens ’n plek in die Haaie se beginspan oop te speel – moontlik as sentermaat vir die kaptein, Lukhanyo Am – en dan so te beïndruk dat hy ’n plek in die Springbok-groep vir volgende jaar se Britse en Ierse Leeus-toer kan losspeel.

“Dít sal ’n groot hoogtepunt wees,” het Kok Woensdag aan Netwerk24 gesê.

Sy teleurstelling was groot dat die Olimpiese Spele weens die Covid-19-pandemie na volgende jaar uitgestel is en hy is nog nie seker of hy nou volgende jaar aan sy tweede Spele sal kan deelneem nie. Vir die volgende twee jaar wil hy hom heeltyds op vyftienman-rugby toespits.

“My planne was perfek uitgewerk om eers die (sewes)seisoen te speel en om my sewesloopbaan dan op die Olimpiese Spele af te sluit, sou ek gekies word.

“Dinge het ongelukkig nie so uitgewerk nie. Dit is mos maar moeilik in die lewe om vaste planne te maak.

“Ons sal dalk maar volgende jaar moet kyk hoe gaan die planne met die sewes werk, want dinge is by hulle ook maar nog onseker.

“Op die oomblik is ek ten volle gefokus op die Haaie.”

Hoewel hy in 2017 se Curriebeker-reeks vir die Westelike Provinsie op vleuel uitgeblink het, is dit nie eintlik sy voorkeurposisie nie.

Met die Springbok-vleuels Makazole Mapimpi en Sbu Nkosi in die Haaie-groep, sal dit in elk geval moeilik wees om die beginspan gereeld in die nr. 11- of nr. 14-trui te haal.

“Dit is ’n baie moeilike posisie om by in te kom hier by die Haaie. Hier oefen top-, topatlete op vleuel. Maar ek sê nog altyd vir almal dat ek oral waar ek gaan op vleuel aangewend word, omdat mense dalk dink dis waar sewesspelers hoort.

“Maar ek is hier as ’n senter. Ek is redelik veelsydig en kan enige plek speel waar hulle my nodig het, maar my eerste opsie is senter.”

Hy het nie ’n voorkeur wanneer dit kom by binne- of buitesenter nie.

Werner Kok sweet by Kingspark. Foto: Gallo Images

“Ons sal maar sien hoe die span saamgestel word. Ek sal enige van die twee posisies speel, maar by die Haaie kan enigiemand op enige plek inval.

“Dit is meestal net by die vaste fasette waar jy op binne- of buitesenter moet staan, verder kan die senters afwissel.”

Die nr. 13-trui het Am se naam op, maar daar is moontlik ’n geleentheid aan sy binnekant nadat André Esterhuizen die span verlaat het om hom by die Harlequins in Engeland te gaan aansluit.

Sean Everitt, die Haaie se breier, het vroeër aan Netwerk24 gesê Jeremy Ward en Marius Louw sal sake om die nr. 12-trui uitspook, maar Kok sal graag sy naam by dié geselskap wil voeg.

Meer oor:  Haaie  |  Werner Kok  |  Blitsbokke  |  Superrugby  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.