Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Blitsbok-sege gaan Bokke help’

Die Springbokke kan straks later vanjaar die vrugte pluk van die Blitsbokke se sege die afgelope naweek by die sewestoernooi in Singapoer.

Dit is die mening van Marius Schoeman, hoëprestasiebestuurder van sewesrugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, nadat die Blitsbokke feitlik uit die niet opgeduik het om in Singapoer koning te kraai.

Lekker is om in Singapoer koning te kraai. Die Blitsbokke se Selvyn Davids vier Suid-Afrika se oorwinning. Foto: Getty Images

Die Blitsbokke het Fidji in die eindstryd met 20-19 geklop nadat hulle teen rustyd met 0-19 agter was en die skrif vir alle praktiese doeleindes aan die muur was.

“Vir Suid-Afrikaanse rugby is dié sege baie belangrik in die opbou tot die Wêreldbeker-toernooi later vanjaar (in Japan).

“Wat dit verder belangrik maak, is dat al daardie spelers wat die naweek goed vertoon het produkte van die Sewes-Akademie is en ons roem ons juis op hoe goed ons akademie is,” sê Schoeman, wat self in sy speeldae vir die Blitsbokke opgedraf het.

Ons het ook gesien dat iemand soos Werner Kok nuwe lewe gekry het. Hy is elke sent en meer werd wat ons hom betaal.
Marius Schoeman

Spelers soos Ryan Oosthuizen, Kurt-Lee Arendse en Angelo Davids het hul hande opgesteek en gewys dat sewesrugby in die land ’n blink toekoms het.

“Ons het ook gesien dat iemand soos Werner Kok (Wêreldrugby se Speler van die Jaar in 2015) nuwe lewe gekry het. Hy is elke sent en meer werd wat ons hom betaal.

“Baie van die ouens kom uit moeilike omstandighede en dit is lekker as hulle ook ’n bietjie roem kry,” sê Schoeman, wat ook verantwoordelik is vir die werwing van spelers.

Siviwe Soyizwapi, kaptein van die Blitsbokke, wat die eindstryd met ’n kniebesering misgeloop het, met die trofee wat Suid-Afrika as wenner in Singapoer verower het. Foto: David van der Sandt

Hy erken dat die Blitsbokke se soms power vertonings vanjaar druk op Neil Powell, die Blitsbok-afrigter, geplaas het.

“Dit (die oorwinning) neem druk van Neil af. Die oorwinning kan maak dat mense weer vertrou wat ons doen en is ook ’n manier om dankie te sê vir ondersteuners,” sê Schoeman.

Frankie Horne, wat die Blitsbokke in sy speeldae in 68 opeenvolgende toernooie verteenwoordig het, kan nie uitgepraat raak oor die vertoning van die jonges nie.

“Êrens gaan (jong spelers) ervaring moet kry. Dit is goed om die ouens laat in die reeks, as daar nie meer druk is om dit te wen nie, speelkans te gee,” sê hy.

Suid-Afrika, wat die afgelope twee seisoene die reeks gewen het, is tans vierde en kan nie meer hul titel verdedig nie.

Nog ’n oud-Blitsbok, Paul Delport, wat tans die Suid-Afrikaanse vroue-sewespan afrig, sê “die jong spelers het in die eindstryd gefloreer, met die ouens wat hul spel afgewissel het”.

Iemand soos die strydros Chris Dry se ervaring op die dag was goud werd en moenie misgekyk word nie, sê Jaco Pretorius, ’n voormalige kaptein van die Blitsbokke.

Dit was ’n trotse oomblik om te sien hoe Fidji die Blitse plat duik, maar dan staan hulle maar net weer op en gaan verder.
Jaco Pretorius

Dit was Dry wat sekondes voor die einde Selvyn Davids aangesê het om pale toe te skop en nie die kantlyn op te soek nie.

Dié strafdoel, reg voor die pale, het die Blitsbokke se agterstand van 17-19 in ’n voorsprong van 20-19 verander.

“Die manier waarop die ouens teruggeveg het, gaan hulle in die toekoms die wêreld se goed doen. Dit was ’n trotse oomblik om te sien hoe Fidji die Blitse plat duik, maar dan staan hulle maar net weer op en gaan verder,” sê Pretorius.

Meer oor:  Sewesrugby  |  Sewes  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.